De Rustica kry weer internasionale goud

Deur Angelique Erasmus
DIE bekende olyfplaas De Rustica net buite De Rust het pas weer gewys hulle kan op internasionale gebied hul man staan!

De Rustica is op 10 Mei by die New York Internasionale Olyfolie-kompetisie (NYIOOC) met ’n goue toekenning bekroon vir hul Coratina-enkelkultivar-olyfolie.

“Ons is opreg trots op wat ons doen. Hierdie prys weerspieël die toegewydheid van ons span op die plaas jaar na jaar, ongeag die omstandighede,”sê Precilla Steenkamp, bemarkingbestuurder van De Rustica.

Die Cortina is ’n intense olyfolie, met geure van varsgesnyde gras en kruie wat deurgedra word na ’n gebalanseerde bitterheid en effe peperagtige karakter op die palaat.

Dié olie het verlede jaar ook internasionale goue toekennings losgeslaan by die New York-kompetisie, die Los Angeles-olyfoliekompetisie en by die Sol’D Oro (Suidelike Halfrond)-olyfoliekompetisie.

De Rustica het verlede jaar met vyf internasionale toekennings en ses nasionale toekennings weggestap.