Belang van gemeenskap 1ste sê nuwe munisipale bestuurder

Prins Albert se nuwe munisipale bestuurder, Anneleen Vorster.  Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
VIR die nuwe munisipale bestuurder van Prins Albert is die belange van haar gemeenskap van groter belang as verering – hoewel sy trots is daarop dat dié munisipaliteit vanjaar aangewys is as die tiende beste in die land.

Anneleen Vorster, wat tot onlangs die pos van hoof: korporatiewe bestuur en munisipale woordvoerder hier beklee het, het aan Die Hoorn gesê Prins Albert “is die tweede kleinste munisipaliteit in die Wes-Kaap, maar van ons word dieselfde verwag as van groot munisipaliteite, en dit met baie minder geld, kundigheid en werknemers. Om deur kundiges aange­wys te word as tiende beste beteken vir ons baie.

Vir die gemeenskap behoort dit vertroue te gee. Natuurlik wil ons op dié posisie verbeter – vyfde in die land sal nie sleg wees nie, maar ons jaag nie werklik posisies en oorkondes nie. Vir ons gaan dit eerstens en altyd oor die gemeenskap; nie oor papier-verslae nie.”

Vorster is in dié pos aangestel nadat die vorige munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, na die Saldanhabaai-munisipali­teit verskuif het. Sy skryf Prins Albert se sukses ook toe aan Mettler se “uitste­kende” leierskap.

“Vir my hang die sukses van munisipale bestuur af van politieke leierskap, toewyding, ’n wil om iets te maak werk, om nooit tou op te gooi nie en elke dag jou beste te gee vir die gemeenskap wat jy dien.

“Ondanks diensleweringstekorte is ons ’n stabiele owerheid met goeie diensle­wering en ’n verbintenis tot goeie rege­ring. Ons mense, dit is die politici, amp­tenare en gemeenskap, het ’n go getter-ingesteldheid.

Wanneer ons val, staan ons op en probeer weer. Ons is ook geseënd met ’n groot poel van ‘afgetrede’ kennis wat ons gebied verder vorentoe kan neem. Ons pragtige omgewing en die goeie samewerking met ander regering­sfere is een van ons groot pluspunte.”

Vorster sê sy weet op munisipale vlak gaan alles nie altyd voor die wind nie, “want ons het groot uitdagings. Geen organisasie is perfek nie. Selfs nie eens die nommer-een-munisipaliteit in die land nie.

Ons gee egter ons beste”.

Nog ’n voordeel is die amptenary, meen Vorster, “wat lang en harde ure werk” en “soms meer kritiek as dankies ontvang”.

“Ek dink ons aanwysing onder die top-tien behoort ons as gemeenskap en amptenare dankbaar en trots te maak en ons aan te moedig om nog beter te doen. Ons is een van die voorste toerisme­bestemmings in die Wes-Kaap. Die munisipaliteit se prestasie en dienslewering aan die gemeenskap is deel hiervan.”