Boplaas blink uit in nasionale, internasionale kompetisies

Sakkie du Toit (Visie-President Agri-Expo), Margaux Nel en Christo Pienaar (Chairperson SA Jongwynskou) Foto verskaf

Boplaas wynplaas en stokery op Calitzdorp is bekend vir sy wye aanbieding, maar veral vir die deurlopende kwaliteit, wat pas weer deur ’n rits kompetisies beklemtoon is.

Onder die mees onlangse toppresteerders was Boplaas port, whisky en hanepoot, wat as SA Kampioen bekroon is.

Die Boplaas Hanepoot is die afgelope naweek by die SA Jongwynskou as die nasionale kompetisie se beste inskrywing aangewys. Die Jongwynskou is Suid-Afrika se oudste kompetisie en het vanjaar 1 387 inskrywings gelok.

Hierdie toekenning volg kort op die hakke van die Boplaas Cape Tawny Colheita 2007, wat as die beste port by die SA Terroir-kampioenskap aangewys is. Dié geleentheid vereer nasionale uitblinkers, maar ook topwyne in hul afsonderlike streke.

Buiten die port-prys, het Boplaas ook weer gewys dat die Klein Karoo uitstekend is vir kultivars van Portugese oorsprong. Boplaas se nuutste witwyn, die Alvarinho, is hier as ’n streekswenner uitgesonder.

Boplaas se whisky is ook onlangs weer vereer. By vanjaar se IWSC (International Wine and Spirit Competition) het die Calitzdorpers nogmaals gewys dat hulle stookkuns met die wêreld se beste kan kompeteer.

Die ervare internasionale be-oordelingspaneel het aan Boplaas se nuutste whisky – die 10YO Single Grain Rum Cask – 95 punte asook ’n goue medalje toegeken.

Die whisky is vir vyf jaar in Amerikaanse eikehoutvate verouder en toe vir nog vyf jaar verouder in vate wat voorheen gebruik is vir die veroudering van rum.

Hierdie nuutste pryswenners is wyd verkrygbaar, insluitend by die plaas se verskeie proelokale in Calitzdorp en Suid-Afrika se bekende Tuinroete. Dit kan ook aanlyn gekoop word, by www.boplaas.co.za. Skakel 044 213 3326 vir meer inligting.

Be the first to comment on "Boplaas blink uit in nasionale, internasionale kompetisies"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*