17 medaljes vir Calitzdorp-kelders

Boplaas, Calitzdorp Wynkelder en De Krans onder topprodusente in Suid-Afrika

Ellenore Cronje met Boplaas se drie dubbelgoue medaljes.

Christo Pienaar (links) en Danie van der West­huizen, wynmaker van Calitzdorp Wyn­kel­der, met hul dubbelgoue medalje.

Susan en Louis van der Riet, De Krans se wynmaker, wys hoe lyk dubbelgoud!

TEN spyte van die erge droogte wat die Klein Karoo die afgelope jare teister, was drie wyn­kelders uit Calitzdorp van Suid-Afrika se topprodusente by vanjaar se Veritas-kompetisie.

Veritas is Suid-Afrka se oudste en vernaamste wyn- en brandewynkompetisie.

Die Calitzdorp Wynkelder, Boplaas Familie Win­gerde en De Krans het saam 17 medaljes los­ge­slaan. Die toekennings is oorhandig by die jaarlikse galageleentheid op 6 Oktober in Kaapstad.

Vanjaar is 1 677 inskrywings ontvang waarvan 50 met dubbelgoud en 219 met goud beloon is. Ses prominente beoordelaars van regoor die wêreld het vanjaar se inskrywings beoordeel.

• Die Calitzdorp Wynkelder, ’n koöperatiewe wynkelder, het vyf medaljes verower, met ’n dubbelgoue medalje vir die Cape Vintage Reserve 2016, goud vir die Golden Jerepigo, silwer vir Die Cape Ruby en White Muscadel 2017 en brons vir die Merlot 2016.

• Boplaas Familie Wingerde het drie dubbelgoue medaljes ontvang vir die Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2015, Boplaas Cape Tawny Vintners Reserve NV en die Boplaas Heritage White Muscadel 2013 en goud vir die Boplaas Heritage White Muscadel 2014. Die Boplaas Gamka Branca Reserve 2017, Cape Vintage Reserve 2016 en die Nel Family Cape Tawny NV het silwer ontvang en die Boplaas Ring of Rocks 2015 brons.

• De Krans is op sy beurt met ’n dubbelgoue medalje bekroon vir sy Cape Vintage Reserve 2015, ’n goue medalje vir sy Cape Vintage Reserve 2016 en het twee silwer medaljes gekry vir die Tritonia Rooi Calitzdorp Versnit 2016 en die Cape Tawny Limited Release.

Boets Nel, mede-eienaar van De Krans, het die prestasie van die Calitzdorp-kelders in huidige omstandighede so in perspektief geplaas: “Met die Klein Karoo in die greep van die ergste droogte op rekord, is die erkenning wat ons op sowel die plaaslike as die internasionale front ontvang van geweldige waarde vir die span op De Krans, en dit spoor ons aan om positief te wees en voort te gaan en die heel beste uit ons druiwe te haal.”

• Foto’s op bladsy verskaf deur die kelders.