• Kers opgesteek by Kaapstad se waterrrampplan
DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het as deel van streng waterbeperkings wat tans op Oudtshoorn geld, ’n moratorium geplaas op die besproeiing van enige munisipale eiendom met die dorp se drinkwater.
Die munisipale gebied is vroeër die maand tot ’n rampgebied verklaar.
“Ons het die besproeiing van sportvelde, parke en padeilande met drinkwater opgeskort,” sê Allen Paulse, munisipale bestuurder.
Gesuiwerde rioolwater word gebruik om die dorp se gholfbaan, die Bridgton Sportgronde en die park langs die N12 nat te lei, asook by Hoërskool Morestêr, Laerskool Bongolethu en Laerskool Bridgton. Die publiek het toegang tot dié water by ’n aftapkraan in St Saviourstraat en die rioolsuiweringsplaas.
Die onderhoud van grondpaaie word tot verdere kennisgewing gestaak omdat dit sulke groot hoeveelhede drinkwater verg om stof te minimaliseer tydens die skraping van die padoppervlak en ook by die vasrol daarvan.
Onderhoud sal slegs op reëndae geskied, terwyl van die paaie drooggeskraap sal word op plekke waar die publiek nie nadelig geraak sal word nie.
Paulse sê die munisipaliteit werk die afgelope weke hard agter die skerms om te voorkom dat die waterkrisis vererger.
Die munisipaliteit het ook kontak gemaak met Richard Bosman, Kaapstad se uitvoerende direkteur vir veiligheid en sekuriteit, wat die voorsitter was van die stad se rampkoördineringspan was. Hy het die Oudtshoorn Munisipaliteit ingelig oor Kaapstad se waterrampplan.
’n Waterkrisiskomitee wat verkies is, het gister vergader om oor die volgende stappe van optrede te besluit. Die komitee bestaan uit raadslede, senior bestuur, amptenare van die munisipale waterafdeling, risikobestuur, kommunikasie, voorsie- ningskettingbestuur en kapitale projekte.
• Streng waterbeperkings geld ook vir inwoners met verhoogde watertariewe om gebruik te ontmoedig en boetes van R1 000 vir enige wateroortreding.
Met die gesamentlike damvlak van die Raubenheimer- en Melvilledam tans onder 40% geld fase 2-droogtetariewe wat 30% duurder is as gewone watertariewe. Krisistariewe van 75% hoër sal in werking tree indien die gesamentlike damvlak onder 30% daal. Inwoners sal met R1000 beboet word as beperkings oorskrei word.
Inwoners mag tans geen tuinslange gebruik om motors te was of oppervlaktes af te spuit nie, en tuine mag slegs op drie voorgeskrewe dae per week tussen 08:00 en 10:00 en tussen 16:00 en 18:00 natgelei word.