Wes-Kaapse wenner!

Jacquine Strydom saam met haar ouers, Christa en Jacques. Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
’N GRAAD 9-LEERDER van Langenhoven Gim­nasium op Oudtshoorn, Jacquine Strydom, is Saterdagaand in Ou Mutual Park in Pinelands aangewys as die Wes-Kaapse Hoërskole-sport­vrou van die Jaar!

Dit volg na haar vele prestasies in skopboks op nasionale sowel as internasionale vlak.

Haar toekenning is gisteroggend tydens ’n saal­byeenkoms deur Dave van der Walt van die Eden Sportraad aan haar oorhandig.

“In die Wes-Kaap het Jacquine met die wenners van vyf ander distrikte meegeding wat almal oor uitstekende sportmanne en sportvroue be-skik. Om as wenner aangewys te word, is geen geringe prestasie nie,” het hy gesê.

Uit die nege provinsies in die land se wenners gaan drie nou gekies word wat genooi sal word na die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings op 12 November in Johannesburg.

Jacquine het in 2014, toe die Strydom-gesin hulle op Oudtshoorn kom vestig het, by Ranger Grebe se skopboksklub aangesluit.

Sy het die afgelope vier jaar aan verskeie kompetisies deelgeneem en in Maart vanjaar as lid van die Suid-Afrikaanse

Presidentspan te midde van strawwe mededinging ’n goue medalje by die Turkse Ope in Turkye gewen.

In April het sy twee goue medaljes in haar gewigsafdeling by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Pretoria gewen.

Jacquine se ouers, Jacques en Christa, sê hulle is baie trots op hul dogter en haar prestasies. Hulle het ook groot waardering vir Grebe wat haar afrig. Volgens hulle het hy ongelooflike hoogtes bereik met die leerders in sy klub.