Damvlak styg verder

Die Raubenheimerdam waar Oudtshoorn se drinkwater vandaan kom, is in die Swartberge geleë.

Die Raubenheimerdam waar Oudtshoorn se drinkwater vandaan kom, is in die Swartberge geleë.

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE vlak van die Raubenheimerdam, Oudtshoorn se drinkwaterbron, het die afgelope week verder gestyg na­dat 20,55 mm reën by die dam geval het.

Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het die watervlak van die dam Dinsdag om 15:00 op 67,4% gestaan.

Die Melvilledam wat die Raubenheimerdam voed, is tans 100% vol.

Die damvlak het in Augustus tot 48% gedaal, Dit het daarna stadig begin styg met reën wat sporadies in die opvangsgebied uitgesak het. Twee weke gelede was die dam 62% vol.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het intussen waterbesparingsmaatreëls goedgekeur asook droogtetariewe, vir indien die damvlak onder 50% daal. Dit verskyn vandeesweek op bladsy 2 van Die Hoorn.

• 12 mm reën het met die jongste reën by die Rust en Vrede Waterval geval en 6 mm op Oudtshoorn.