Kook water as troebel

DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het ’n beroep op inwoners gedoen om hul drinkwater uit die dorp se krane te kook indien die water troebel is.

Volgens ’n verklaring wat Vrydag uitgereik is deur die munisipaliteit het die skielike inloop van groot hoeveelhede water in die Raubenheimerdam na verlede week se goeie reën tot gevolg dat die damwater vertroebel het wat ook ’n invloed het op die drinkwater.

“Dit is as gevolg van die intensiteit van die reën (75 mm in minder as twee dae) en die opvangsgebied wat ten midde van die droogte nog nie ten volle herstel het na die brande in 2016 nie. Die organiese materiaal in die water bring mee dat die chlorinering minder effektief is en ons beveel aan, dat sou dit gebeur, drinkwater gekook word,” lui die verklaring verder.