Smartie Town-man voor vir poging tot moord

Om iemand met ’n spanhoutjie oor sy kop te slaan kan tot sy dood lei.

So het die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, in die streekhof op Oudtshoorn gesê in die saak teen ’n man van Smartie Town wat van poging tot moord aangekla word omdat hy ’n ander man met ’n spanhoutjie oor die kop geslaan en sy skedel gekraak het.

Die 19-jarige Brandon Fortuin pleit onskuldig en voer aan dat hy die betrokke dag, op 2 Desember 2017, uit selfverdediging opgetree het omdat die klaer, Donovin Langeveldt, hom met ’n mes wou steek.

Hy wou die mes uit Langeveldt se hand slaan toe hy hom per ongeluk op sy kop getref het.

Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, sê Fortuin is gelukkig dat hy nie op ’n klagte van moord tereg staan nie.

“Die beskuldigde moes die moontlikheid voorsien het dat hy iemand se dood kon veroorsaak het.”

Sy het die hof versoek om sy verweer dat hy uit selfverdediging opgetree het te verwerp omdat die klaer nie ’n wapen by hom gehad het nie.

Langeveldt se regsverteenwoordiger, adv Shaun Ferreira, het die hof om sy vryspraak gevra omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.

Volgens hom het alkohol die dag ’n rol gespeel.

Daar was ’n stryerey oor dobbelgeld en die staatsgetuies het mekaar weerspreek.

Die beskuldigde het nie die voorneme gehad om die klaer te beseer nie.

Hy het self geskrik en weggehardloop en toon berou oor wat hy gedoen het.

Die staat daarenteen vra dat indien Fortuin nie aan poging tot moord aangekla word nie, hy wel aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind te moet word.

Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks.

(Deur Garnett Wicomb)