DIE tweede Klassieke Klein Karoo Kersfees, wat op Saterdag 7 Desember op Celebratio aangebied word, beloof om ’n unieke belewenis te wees wat nie misgeloop moet word nie.
Alle sitplekke is op stoele en is gereserveerd.
Die venue is ’n spog-granaatplaas sowat 30 km van Oudtshoorn af in die rigting van Calitzdorp, die kunstenaars en klassieke orkes is topklas en die musiek spesiaal verwerk vir die produksie.
Corlea Botha, wat ook in verlede jaar se eerste Klassieke Klein Karoo Kersfees-produksie op Celebratio te sien was, deel vanjaar die verhoog met die ewe bekende en gewilde Jannie Moolman.
Jannie en Corlea sal die aand hulle gunsteling-Kersliedjies en klassieke treffers sing. Dit sluit Corlea se gunsteling, “O Holy Night” in. Ook op die program is “Stille Nag”, “Jerusalem”, “Pie Jesu”, “O Sole Mio” en “Nessun Dorma”.
Die klassieke orkes staan onder die leiding van Paul Loeb van Zuilenberg.
Corlea vertel dat die Kerstyd vir haar ’n tyd is om stil te staan en al die seëninge in haar lewe twee keer te tel.
“My vriende, familie, loopbaan, gesondheid … alles is sulke groot geskenke en heeltemal onverdiend,” sê sy.
Hoewel elke Kersfees spesiaal is, sê Corlea sy is veral dankbaar vir die Kersfees van 2006.
“Dit was die laaste Kersfees saam met my een ouma. Sy het kanker gehad en was toe al redelik swak. Sy’t vinnig moeg geword … maar ek’s bly dat sy nog saam met ons op die stoep kon kuier en ons daardie kosbare tyd saam met haar kon spandeer.”
Sy spandeer elke Kersfees, ook vanjaar s’n, saam met familie en vriende – “almal wat na aan my hart is en vir my belangrik is,” sê sy.
Klassieke Klein Karoo Kersfees is die perfekte afskop vir die feestyd. Bring dus almal wat “na aan jou hart is” saam en kom luister na pragtige musiek onder die sterrehemel van die Klein Karoo.
Die kos- en wynstalletjies is reeds van 17:15 af oop. Die restaurante Karooboom en Nostalgie sal heerlike eetgoed verskaf terwyl Liquourland, Black Mountain Gin en Calitzdorp Wynkelders sal sorg vir iets te drinke.
Die konsert begin om 19:30.
Kaartjies kos tussen R160 en R200 en is aanlyn beskikbaar by www.celebratio.co.za of kontant by PostNet in die Queen’s Mall op Oudtshoorn.
Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.
Die konsert word aangebied in samewerking met Die Hoorn.
• Hoewel die akkommodasie op Celebratio reeds volbespreek is, is daar verblyf naby die plaas beskikbaar by Karoowater (chalets asook karavaan- en kampeerstaanplekke – sel 076 382 3477) en Bella de Karoo (sewe kamers asook ’n gewelhuis) – sel 074 369 3336 of 071 547 6967.
• Celebratio is op die sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp geleë.