AfriForum maak beswaar

Voorgestelde begroting: Oudtshoorn se watertariewe met 7,5 tot 12% op.

510 mense het teen 15:00 verlede Vrydagmiddag reeds ’n aanlyn-petisie onderteken ter ondersteuning van besware van AfriForum Oudts­hoorn teen die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit se konsepbegroting vir 2019/2020 en vir 2021/2022.

AfriForum se Oudtshoorn-tak het die afgelope week ’n brief aan die Oudts­hoorn Munisipaliteit gestuur waarin beswaar aangeteken word teen die finansiële druk wat die konsepbegroting op belastingbetalers sal plaas.

Luidens die brief is die eiendomsbelasting en ander tariewe op Oudts­hoorn buitensporig hoog as dit met die van omliggende dorpe vergelyk word.

“In die huidige ekonomiese klimaat en droogte in die Klein Karoo is alle inwoners onder groot finansiële druk. Die munisipaliteit wil met die nuwe begroting net nog meer druk op die belastingbetaler plaas. Die belastingbetaler het reeds die afgelope jaar of twee baie betaal en opgeoffer sodat die munisipaliteit uit sy finansiële verknorsing kan kom,” lui die brief onder meer.

Met verwysing na ’n vergelyking wat die organisasie gedoen het oor erfbelasting in Oudtshoorn, Prins Albert, Knysna, George en Mosselbaai asook die persentasie van tariefverhogings in die dorpe (sien die tabelle bo) skryf die organisasie voorts:

“Die persentasieverhoging is ver bo dié van salarisverhogings en baie werknemers kry nie eers elke jaar verhoging nie.

“Hoe moet hierdie inwoners hul dienste bekostig? Meeste inwoners huur verblyf en met die verhoging van die tariewe gaan die huur ook styg en met die huurpryse wat reeds die hoogte in is, gaan inwoners verder finansieel sukkel.

“Oudtshoorn het altyd baie afgetredenes gelok om hul aftrede op Oudtshoorn te kom uitleef. Met die huidige en toekomstige belasting word Oudtshoorn minder aanloklik en kyk hulle na ander dorpe wat goedkoper is.

“Die eiendomsmark gaan ook negatief geraak word. Huispryse gaan val en beleggers en huiseienaars gaan geld verloor as hulle hul eiendom verkoop. Dit gaan meebring dat die munisipaliteit se inkomste ook gaan verminder.

“Daar is reeds inwoners wat egterstallig is op hulle munisipale reke­ninge. Die nuwe verhogings gaan meebring dat nog meer inwo­ners agterstalllig gaan raak en nie hulle munisipale rekeninge sal kan betaal nie.

“Deur produktiwiteit te verhoog, kan die munisipaliteit hul salarisrekening (wat 40% van die begroting uitmaak) verlaag. Pryse van goedere wat aangekoop word, moet gefyn­kam word sodat daar nie te veel betaal word vir aankope nie.

“AfriForum Oudtshoorn versoek dat die munisipaliteit ernstig besin oor die konsepbegroting., Inwoners kan eenvoudig nie byhou met die munisipale tariewe nie.

“Ons vertrou dat die munisipaliteit ons beswaar ernstig sal oorweeg.”

• Die raad van die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit oorweeg van­dag die aanvaarding van die begroting by ’n spesiale raadvergade­ring wat vir 08:00 geskeduleer is.