Jeugdag met sport en dans gevier

Die trompoppies tydens Saterdag se optog. Foto’s: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE Gemeenskap Intergenerasie Sport, Kultuur en Opvoedkundige Programme (Giskop), ’n nie-winsgewende gemeenskapsorganisasie, het Jeugdag Maandag met sport en dans op die Bridgton Sportgronde op Oudtshoorn gevier.

Die dag is volgens volgens die voorsitter van die organisasie, Mark Jackson, moontlik gemaak deur die ondersteuning van die jeugkantoor van die Oudtshoorn Munisipaliteit en verskeie ander borge wat gesorg het vir bestanddele om sop aan almal te voorsien.

Daar is meegeding in sewes-raakrugby, netbal, domino’s en boeresport soos sakresies en eier-in-die-lepel-resies.

Die Revival Kids het verskeie dans-items gelewer

Hoewel Jeugdag gevier is, het 12 dominospanne van Oudtshoorn, grotendeels volwassenes, mekaar die stryd aangesê tot die aanloop van Saterdag se Sportfees-dominotoernooi.

Die dag het afgeskop met ’n optog vanaf die Bongolethu-sirkel wat gelei is deur die orkes van die Toekomsrus UCC en waaraan onder meer ook die trompoppies van die bejaardeklub, Goue Oues, deelgeneem het.