Egpaar wil vrae en onkunde takel en inlig
Die eienaars van Die Boom Shop in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn, Kobus en Daleen Schoeman, binne hul winkel. Die Boom Shop is die eerste winkel op die dorp wat kannabis-verwante produkte verkoop. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
DIE winkel se naam trek heel eerste die aandag: Die Boom Shop.
En ja, die “boom” waarna die winkel verwys, is nie die bome wat in die meeste van ons se tuine groei nie.
Dit is inderdaad Oudtshoorn se eerste winkel wat kannabis-verwante produkte verkoop.
“Die doel van Die Boom Shop is om alles kannabis-verwant vir mense te wys,” sê Kobus Schoeman, saam met sy vrou, Daleen, die winkel se eienaars.
Die twee relatief nuwe Oudtshoorniete is nou amper 18 maande op die dorp.
Hulle woon sedert Januarie 2018 hier toe hulle eers ’n winkel met die naam CannaPax geopen het.
Kobus vertel dat hulle egter kort daarna die winkel gesluit het om eers deeglik navorsing te doen oor die moets en moenies van wetgewing rondom kannabis, en ook omdat hulle besef het ’n konsessie-winkel (franchise) soos CannaPax was nie die ideale model vir hulle nie.
In Mei het hulle Die Boom Shop in Baron van Reedestraat (ingang via die buitesit-gedeelte van La Dolce Vita) geopen, op dieselfde plek waar hul eerste winkel was.
“Kannabis is voorheen beskou as hierdie obskure ding. Die winkel wys egter daar hoef niks te wees om weg te steek nie. Ons het ’n oopboek-stelsel vir almal om te kom kyk wat hier aangaan,” sê Kobus.
Hy vertel dat daar letterlik mense is uit alle sfere van die groter gemeenskap van Oudtshoorn wat by Die Boom Shop opdaag.
“Daar is baie vrae en onkunde rondom kannabis. Ons wil hande vat met die gemeenskap en met die polisie en graag ons kennis en navorsing met hulle deel.
“Ons wil ook graag die gemeenskap steun.
“Ons bied ’n goot verskeidenheid produkte te koop aan wat deur plaaslike mense vervaardig word en help hulle so om ’n mark te vind vir hul werk.
“Dit is ook belangrik dat mense verstaan dat hierdie nie ’n winkel is waar ’n klomp ‘daggakoppe’ uithang nie.
“Daar is ouer mense wat velolie by ons koop vir byvoorbeeld velkanker; daar is baie geskenke wat inwoners maak wat ons verkoop. Hier is baie meer as net kannabis.
“Dit is letterlik net omtrent veertig persent van die mense wat hier inkom wat ‘recreational cannabis’ soek. Die res is almal hier vir olies, medisyne, erdwurmtee – baie meer as net dagga.”
Kobus en Daleen het ook ’n Social Club gestig waarby al sowat 1 000 mense tussen die ouderdom van 18 tot 84 jaar aangesluit het.
“Wat ons met die Social Club probeer doen, is om in hierdie ‘grys tydperk’ waarin ons tans is, vir mense veilige en verantwoordelike toegang tot produkte te gee.
“Ewe skielik is dit nie meer ’n kriminele oortreding om kannabis te kweek of self te gebruik nie, maar as jy dit moet koop, moet jy versigtig wees. Daar is baie gevaarlike goed wat verkoop kan word.
“Mense kan byvoorbeeld die plant met gif behandel of die produkte wat hulle verkoop se kwaliteit is nie meer goed nie.
“Die Social Club is ’n veilige spasie waar plaaslike produkte van boere gebruik word.
“Jy kan self ook ’n stukkie grond huur, wat beteken jy het van die dag wat die kannabis geplant word totdat dit geoes word, beheer daaroor. Jy weet wat jy kry.”
Kobus en Daleen het nog baie ander planne vir die toekoms.
Hulle wil onder meer ’n plaaslike geldeenheid vir Oudtshoorn begin, en ’n toepassing (app) daarvoor ontwikkel wat vir inwoners en toeriste spesiale pryse sal kan beding.