Clown Conc die Karoo-hanswors (oftewel Mark Colli) wat eerskomende naweek op Prins Albert by die plaaslike landbouskou optree. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
HANSWORSE simboliseer onskuld en optimisme – hulle veg teen ’n samelewing waarin die reëls telkens verander.
“ ’n Hanswors is ’n digter-in-aksie,” vertel Clown Conc die Karoo-hanswors (oftewel Mark Colli) wat eerskomende naweek op Prins Albert by die plaaslike landbouskou optree.
“My doel is eerstens om mense te laat lag. Wanneer hulle ontspan, word hulle deel van my towerwêreld.
Almal op aarde lag – of jy in Brussel of Peking of Prins Albert is. Lag is ’n kragtige, positiewe energie wat jy die wêreld instuur. Wanneer mense lag, kan ek hulle na ’n heeltemal nuwe wêreld verplaas, waar dit wat ons as normaal beskou nie meer geld nie. Ek lei hulle subtiel terug na die naïwiteit van hul kindertyd. Ek sleep mense saam tot binne ’n warboel ervarings. Dis dan dat hulle ewe veel plesier het as ek om die uitdagings van die lewe in die oë te kyk.”
Clown Conc sê ’n hanswors is ’n wese “wat kerse in mense se harte aansteek. As elkeen van ons elke dag net één kersie aansteek, dink net watter helder verligte plek die wêreld sou wees.”
Sy liefde vir vermaak spruit uit sy kindertyd toe sy Duitse oupa hom aan kulkunsies blootgestel het. “Hy sou munte ‘insluk’ en note ‘uithoes’ … en toe, as kinderkulkunstenaar, het duiwe en hase gereeld hul opwagting in my bed gemaak. My Franse ouma, met haar byekorfhaarstyl en gróót diamantringe, het my gereeld na revues geneem. Dan moes ek my beste swart skoene aantrek, al het hulle gedruk. Dis wat vir my die grootste vermaakles geleer het … the show must go on!”
Daar was nog ’n oupa, “aan my Italiaanse kant, wat my steeds in my drome besoek en idees in my kop sit. Hy het ons gesin op ’n vaudeville-teatertoer Kaapstad toe geneem. Hier het ek die Alhambra Teater leer ken. Een aktrise, met sulke vere om haar nek, het my eenkeer op haar skoot getel: Dit was niemand anders nie as Joan Brickhill. In my later jare was ek saam met die befaamde Josephine Baker op die verhoog. Sy het ’n liefdeslied gesing vir die sesjarige seuntjie wat steeds in my woon. Daardie betowering bly my by. Soms, ná ’n vertoning, hang die geur van Franse parfuum skielik in die lug, verskyn die spoke van die kunstenaars wat ek op my vermaakreise ontmoet het in my spieël.”
Clown Conc het by die Universiteit van Kaapstad gestudeer, waar hy mimiek, musiek, dans- en stemtegnieke geleer het. “Kunstenaarskap is iets wat uit jou diepste siel borrel. Dis passie en liefde vir die verhoog.” Maar deesdae, erken hy, is die lewe sy belangrikste leerskool.
Sy reise het hom al van Praag na Broadway geneem, van Arabië na die paleis van Prins Albert van Monaco, maar nou het hy in die Karoo nesgeskop en is Conc die Karoo-hanswors gebore.
Daar leef nóg ’n karakter binne hom. Sy naam is Hot Mr C wat net voor volwassenes speel. “Soos ’n skilpad reis ek met al my benodigdhede op my rug. My fiets is gelaai met tasse. Ek pak als uit net waar iemand my wil hoor en sien.”
• Vertoning: Saterdag (19 Oktober), 13:00, skouterrein, Jan Louwstraat, Prins Albert.