St Johnstraat in die ou dae. Deesdae is dit een van die bedrywigste besigheidstrate.
ST JOHNSTRAAT op Oudtshoorn spog met ’n ryk geskiedenis van interessante geboue en besighede en het ook oor die jare verskeie kere ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Die afgelope jare byvoorbeeld is baie van die vroeëre woonhuise in die straat in besighede omskep.
St Johnstraat het in die 1800’s bekend gestaan as Chapelstraat en was veel korter as vandag. Dit is eers in 1890 tot in Wesbank verleng.
Die straat se besigheidsentrum strek min of meer vanaf die brug oor die Grobbelaarsrivier tot by St Georgesstraat. Voorts huisves dit ook verskeie sportgeriewe. Dit grens aan die Oudtshoorn Rolbalklub, aan ’n sportveld van die Hoërskool Oudtshoorn en die De Jager Sportstadion. Behalwe vir talle woonhuise is daar ook etlike gastehuise in die straat.
Een van die straat se ou geboue wat nog steeds daar staan is die Lazarus-gebou op die hoek van Hoog- en St Johnstraat. Dié gebou wat aanvanklik ’n Joodse winkel gehuisves het en daarna Volks-kas, is vandag die tuiste van Pep Stores.
Talle van die straat se ou geboue is egter gesloop. Een daarvan was die legendariese Imperial Hotel. Dit was geleë waar Shoprite nou staan en drie verdiepings hoog.
Op die perseel was eers ’n losieshuis wat in 1896 afgebrand het en herbou is.
In 1910 is dit herbou tot die deftige en indrukwekkende Imperial Hotel. In die 1970’s het dit egter een van talle historiese geboue in die dorp geword wat gesloop is.
Nog ’n slagoffer van sloping was die pragtige Independente Kerk wat in 1849 op die hoek by Baron van Reedestraat gebou is. Dit is in Desember 1971 as gevolg van die Groepsgebiedewet gesluit en later gesloop.
’n Tweede Joodse sinagoge op die dorp wat ook in die straat geleë was, is ook gesloop.
Die Kelme Jode, wat hulle in 1896 op Oudtshoorn gevestig het, het besluit om ’n meer orto-dokse sinagoge te bou in dieselfde styl as hul tuisdorp se sinagoge. Dit het bekend gestaan as die “Griener Shul”.
Dié gemeenskap het egter in 1973 ontbind nadat baie Jode die dorp verlaat het.
Die inhoud van dié sinagoge is na die CP Nel Museum verskuif waar ’n replika van die sinagoge met sy inhoud steeds te sien is.