Eden FM 3de grootste in Wes-Kaap

Deur Garnett Wicomb
EDEN FM, ’n Suid-Kaapse radiostasie, het verlede week goeie nuus van die Uitsendings Navorsingsraad (UNR) ontvang. Die UNR is deur die nasionale Departement van Kommunikasie aan­gestel om navorsing oor luisteraar- en kyksyfers van radio- en TV-stasies te doen.

“Volgens die navorsing is Eden FM die gemeenskapsradiostasie in die Wes Kaap met die derde meeste luisteraars,” sê Morne Pietersen, stasie­be­stuurder van Eden Fm.

Radio Tygerberg in Kaapstad en Radio Zibonele in Khayelitsha het onder­skeidelik 202 000 en 198 000 luisteraars per weekdag. Eden FM het ’n weekdagluisteraarskap van 163 000 mense. Daar is 40 gemeenskapsradiostasies in die Wes Kaap.

Die navorsing is tydens die periode Januarie 2017 tot Junie 2017 gedoen in die hoofdorpe binne die streek en sluit die landelike gebiede uit.

“Uit die 274 gemeenskapstasies in die land be­klee Eden Fm nou die agste posisie.
“Eden FM is ook van die radiostasies met die mees lojale luisteraars in die land, met 46% van die luisteraars wat beweer dat hulle nooit hul radios van die stasie wegdraai nie,” sê ’n trotse Pietersen.