Saak teen Brits tot 2018 uitgestel

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen die voormalige hoofbestuurder van Kango Wyne op Oudtshoorn, Johan Brits, wat op 23 klagtes van bedrog en twee van die oortreding van die wet op drankprodukte skuldig bevind is, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof tot volgende jaar uitgestel.

Volgens die staatsaanklaer, adv Louis van Nie­kerk, is ’n bykomende verklaring in die beskuldigde se hersieningsaansoek rakende sy skuldigbevinding nou geliasseer. Die Vervolgingsgesag wat die aansoek teenstaan, moet nou, volgens Van Nie­kerk, hierop antwoord, waarna ’n datum vir die aanhoor van die aansoek om hersiening van streeklanddros JC Nortje se skuldigbevinding in die hooggeregshof, bepaal kan word.

Brits beweer onder meer in sy aansoek dat ontoelaatbare of onbevoegde getuienis toegelaat is en toelaatbare of bevoegde getuienis verwerp is.

Hy versoek die hooggeregshof om die verrig­tinge in die streekhof ter syde te stel; alternatiewelik dat die aangeleentheid terugverwys word na die eerste respondent, landdros Nortje, om, volgens hom, die onreëlmatighede reg te stel en die verrigtinge op so ’n wyse te voltooi dat die applikant billik en regverdig verhoor word.

Die saak is tot 25 Januarie 2018 uitgestel. Adv Marthinus Barnard verskyn namens Brits.