De Rusters oefen hard vir lekkerlagkonsert

Die hotelier, Blackie de Swardt (Ben Pretorius, regs), kyk verstom na Dr Arries (Niekie Eksteen, links voor) wat die vloer uit blydskap soen. Dié toneel kom uit ’n heerlike plattelandse komedie, Fondse2, wat die inwoners van De Rust op 9 September op die planke bring. Die res van die geselskap is van links Lettie Very, Marnus Barnard, Pieter Schoeman, Bernard Delport, Lanie-Marié Roets, Andries Fourie en Lydia Elstadt.       Foto verskaf

DIE De Rust Toneelgeselskap se jaarlikse konsert beloof vanjaar weer heelwat pret en lekker lag!
Die konsert, waaraan inwoners tans hard oefen, vind op Saterdag, 9 September in die NG Kerk De Rust se kerksaal plaas. Dit begin om 19:00.

Vanjaar se komedie, Fondse2, is ’n opvolg op verlede jaar se stuk.

Verlede jaar het die trustees van die Bewende Bene Ouetehuis Krugerponde in die ouetehuis gevind. Dinge gaan dus goed in die ouetehuis en die trustees word met ’n oorsese vakansie beloon.

Die opwinding is groot – totdat hulle hul na die moeisame reis in ’n spook-agtige hotelletjie iewers in die Britse platteland bevind. Die ander trustees weet dit nie, maar die bestuurder, Dr Arries, het al die ouetehuis se geld gevat om ’n uiters skaars bottel whisky by die eienaar te koop. Sy plan is om die bottel teen ’n wins te verkoop.

Ongelukkig maak Spanners, nog ’n lid van die toergroep, die bottel waardeloos toe hy dit oopskroef. Met vervlegte storielyne en ’n plofbare einde waar dit lyk asof Dr Arries al die ouetehuis se geld gaan verloor, is dit pret om nie mis te loop nie.

Die komedie is geskryf deur Ben Pretorius van De Rust en staan onder die regie van Alta Fourie. Kaartjies is te koop by die NG Kerkkantoor De Rust en by die Village Trading Post.