Timothy Paxton het verlede Vrydag net een begeerte gehad: Om ten spyte daarvan dat hy verlam is, op ’n motorfiets te kon ry. Hier is Timothy agterop Roelof Baker se Harley met Phillip Jordaan (regs) en Grant Minnies (links) wat saamgedraf het.

Die statige Baby van Rooyen (83) van Oudtshoorn geniet duidelik ’n motorfietsrit saam met Eddie Asmus van die Breede River Harley Davidson Chapter. Foto’s: Liesel le Roux
’N BESOEK van die Breederivier Harley Davidson-klub verlede Vrydag aan Helen Bellinghanhof op Oudtshoorn het tot groot opwinding gelei.
Die groep manne en vroue het eers die inwoners op koek en tee getrakteer en daarna inwoners ’n draai saam met hulle op hul ysterperde laat ry.
Hier het die meer waaghalsige Bellinganhoffers gewys dat niks in die pad staan van hul avontuurlus nie.
Volgens Liesl Strauss, sekretaresse van die klub, besoek hulle graag jaarliks Helen Bellinghanhof om met die inwoners te gesels en te kuier, maar ook om vas te stel waar nood is. Hulle beoog om geld in te samel vir ’n grootmaat-broodrooster en skermgordyne vir die siekeboeg.