ACVV word 100 jaar!

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

EEN van die merkwaardigste gebeur­tenisse in ons streek wat in die volgende week gevier gaan word, is die 100ste verjaardag van die Oudtshoorn ACVV.

Die fokus van hierdie merkwaar­dige organisasie het deur die afgelope eeu die welsyn van die gesin en kin­ders gebly; al het die wêreld daarbuite oor die afgelope 100 jaar bykans onherkenbaar verander. Dink net: Toe die ACVV Oudts­hoorn in 1917 gestig is, was die wê­reld midde-in die Eerste Wêreld­­oorlog.
Terwyl hierdie organisasie omsien na die welsyn van baie inwoners van die Groter Oudtshoorn, is dit egter ook as welsynorganisasie baie afhanklik van die steun – finansieel en wat mannekrag betref – van die bydraes van inwoners van die dorp.

Inwoners kan ’n finansiële bydrae lewer deur vandag nog kaartjies te koop vir Vry­dagaand se eeufeesviering in die Banketsaal. Kaartjies kos R250 en sluit ’n driegangmaaltyd en ’n optrede deur Stef­fie le Roux in. ’n Klein hoe­veelheid kaartjies is nog beskikbaar wat die ACVV graag sal wil verkoop. Kontak Riana Booysen by 044 727 7760.

Inwoners kan ook ’n bydrae lewer deur betrokke te raak by die ACVV. “Ons soek mense wat belang stel om diens te lewer – bejaardes te besoek, klere te skenk en donasies te gee. Daar is altyd behoeftes,” sê Diane de Jager, voorsitter van die Oudts­hoorn-tak­be­stuur.” Kontak ook bogenoemde nommer as jy wil betrokke raak.