Twee vlieë met een klap, fees en toer in en om Oudtshoorn

Duik saam met krokodille by die Cango Wildlife Ranch Foto: Facebook

Kaart: Oudtshoorn-De Rust Toerismeburo

Die 28ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees is op ons drumpel en die dorp is behoorlik in rep en roer.

Skole het ook gister gesluit vir ’n welverdiende skoolvakansie na ’n besige drie maande. Die tyd het verby gevlieg.


Die beste ding van die KKNK, afgesien van die lekker musiek, laataand stalletjiewandelings, be- kendes wat na Oudtshoorn kom, gehalte teaterstukke en pragtige kunsuitstallings om maar ’n paar hoogtepunte te noem, is die gees van die dorp wat verander na ’n gees van feestelikheid.

Dit gee sommer net vir die dorp ’n ander atmosfeer. Oral loop jolige mense, sommige word bietjie aangehelp met vloeistof, maar oor die algemeen is mense gelukkig.

Hulle geniet hulself, ontspan en soos die uitdrukking dit stel: loop lekker loslit rond. En dit is hoe dit moet wees, ’n tyd wanneer jy saam met jou familie, al is dit net vir ’n dag of selfs ’n uur, kwaliteittyd geniet.

Ek moet ook bieg dat daar so ’n dag of wat tydens die fees kom, wanneer ek net bietjie die Karoo stilte wil geniet, al is ons bevoorreg genoeg om vir 355 dae van die jaar in ’n rustige, stil dorpie te kan woon. Gelukkig is daar so baie besiens-waardighede in en om die Klein Karoo, wat binne ’n uur of twee se ry deur inwoners en besoekers geniet kan word.

Besoek Ladismith se toerismesentrum en museum, of ry rustig met ’n piekniekmandjie deur die asemrowende Seweweekspoort. In en om Ca-litzdorp is heerlike restaurante, en van die beste Portmakers in die land wat wynproeë aanbied.

Om Oudtshoorn is daar ’n verskeidenheid volstruisplase, of gaan besoek die Cango Wildlife Ranch. Duik saam met krokodille, liefkoos ’n luiperd, en wanneer jy so honger soos ’n leeu is, bied hul ’n heerlike verskeidenheid spyskaart-opsies aan, of gaan kuier by een van Oudtshoorn se uitsoek restaurante.

Na Schoemanshoek se kant is die nimlike Swartbergpas, Kango Grotte en Wilgewandel Va-kansieplaas waar besoekers op kamele kan ry, of in die water en glybane kan speel wanneer dit bloedig warm is in die Klein Karoo. Op dieselfde pad is Oudtshoorn se eie wynplaas, Karusa en net ’n kort afstand van daar is die Cango Volstruisplaas. Buffelsdrift Game Lodge bied ’n verskeidenheid dagtoere aan en heerlike etes kan op die dek geniet word, terwyl die olifante en seekoeie voor jou baljaar. Daar is ook die Rust en Vrede waterval, of ry rustig aan tot net voor De Rust op die Oudemuragie grondpad.

Op pad na Mosselbaai is Safari en Highgate Volstruisplase, asook De Zeekoe wat hul meerkat-toere aanbied en Wildehondekloof met wildritte.

Wanneer die kompas jou na De Rust toe neem, stop gerus by Domein Doornkraal Padstal, waar verskeie kontreiwyne en oulike eetgoed en geskenke te koop is. De Rustica Olyflandgoed bied ook interessante olyftoere en proe-geleenthede aan. De Rust het sy eie bekoring met vriendelike inwoners, en oulike winkels en eetplekke.

Natuurlik is Meiringspoort ’n groot trekpleister met die waterval. Wie weet, dalk gewaar jy die meermin van Meiringspoort.
Anderkant die poort sit Klaarstroom, met hul unieke en pragtige hotel. 52 km verder sit Prins Albert se afdraai.

Eindig jou dagreis deur van Prins Albert oor die Swartbergpas terug te ry na Oudtshoorn sodat daar verder gefees kan word. (Deur Angelique Erasmus)