As die KKNK se strate begin bruis en die skares jou oorweldig, is daar ’n alternatief net ’n entjie buite die dorp wat jou laat asemhaal – en sommer jou adrenalien ook laat pomp.
Die Duiwelskop Oxwagon Pioneers 4×4-roete by Louvain Gasteplaas, sowat 50 km buite Oudtshoorn, bied ’n unieke ontsnapping uit die feesgedruis na die stilte en skoonheid van die berge. Hierdie roete, wat oor sowat 23 km strek en deur asemrowende berglandskappe kronkel, volg ou ossewa-spore en gee ’n voorsmakie van hoe die voorlopers van ouds eens deur die gebied beweeg het.
Die ervaring is nie sommer ’n gewone uitstappie nie. Dit is ’n tegniese 4×4-roete wat vereis dat voertuie behoorlik toegerus is en bestuurders oor die nodige vaardighede beskik. Besoekers moet vooraf bespreek en permitte reël voordat hulle die roete aanpak, aangesien toegang streng beheer word.
Die roete is daagliks oop – afhangende natuurlik van weerstoestande – en bied nie net vir 4×4-entoesiaste ’n uitdaging nie, maar ook vir fietsryers, stappers en “trail-runners” wat die natuur op ’n ander manier wil ervaar.
Dagbesoekers betaal ’n toegangsfooi, voertuie kos R300 per voertuig, terwyl fietsryers en stappers teen R100 toegang kan kry.
Vir die meer avontuurlustiges is daar selfs ’n tegniese hindernisbaan beskikbaar by Louvain, waar bestuurders hul vaardighede verder kan toets, maar ook dit vereis voorafbespreking.
Veiligheid bly egter ’n prioriteit. Geen voertuie mag na 15:00 die pas aandurf nie en almal moet teen sononder uit wees. Bestuurders moet hul roete met die Louvain-kantoor deel, veiligheidsgordels dra en met omsigtigheid ry, aangesien die pad oor verskeie grondeienaars se grond strek, insluitend CapeNature en SANParks.
Die reëls is duidelik: geen rommelstrooiery, geen drink en bestuur, en respek vir die natuur en ander padgebruikers.
Maar vir dié wat die moeite doen, wag daar iets besonders – kronkelende bergpaaie, uitkykpunte wat jou asem wegslaan en die rustigheid van die Klein Karoo wat jou laat herlaai.
So, as die KKNK vir ’n oomblik te veel raak, onthou: die stilte van Duiwelskop roep. En daar wag ’n avontuur wat jou weer grond onder jou voete laat voel.
Vir besprekings of selfs meer inligting, kontak Louvain Gasteplaas by 044 518 0015, of stuur ’n WhatsApp na 067 475 8547. Stuur ’n e-pos na guestfarm@louvain.co.za.
In en om die KKNK: Vat die roete na Duiwelskop se 4×4-avontuur
Foto verskaf