“Die KKNK staan gereed vir ’n feestelike mylpaal wanneer ons hierdie naweek, van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April, drie dekades van kunste, kultuur en kreatiwiteit op Oudtshoorn vier en onthou,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.
Vanjaar word die fees vir die 30ste keer in die Klein Karoo aangebied.
Theart sê die span beplan ’n heerlike partytjie vir besoekers, met ’n feesprogram van meer as 110 teaterproduksies in uiteenlopende genres soos musiek, drama, komedie en dans.
Die program sluit debuutproduksies in, van gevestigde gunstelinge en ervare kunstenaars tot opwindende nuwe stemme, wat iets vir elke feesganger bied.

“Musiekliefhebbers kan uitsien na ’n omvangryke musiekprogram in die Feesmark, met twee musiekverhoë wat meer as 120 sangers en musikante, drie kore, ’n simfonieorkes en ander verrassings insluit. Spesiale aandkonserte soos die Voluit Openingskonsert (28 Maart, 20:00), Karoo Pops (29 Maart, 20:00) en Kaktus (2 April, vanaf 17:00) laat rockers van alle ouderdomme saamkuier en voeg ekstra glans tot die Feesmark-ervaring.”
Theart sê verder dat die KKNK ’n uitgebreide visuele kunsprogram aanbied, insluitend ’n uitstalling van vorige feeskunstenaars, insiggewende gespreksreekse en Klein Karoo- en Leefstyl-ervarings vir diegene wat meer as uitvoerende kunste wil beleef.
“Daar is ook ryk vermaak vir jonger feesgangers, met kinder- en jeugaktiwiteite in die Klein KKNK-teater.
Ander verrassings sluit die Absa Kuierkamer, Klein Karoo Agri se Ekspo-area en die Checkers Kuierverhoog in, asook ’n spesiale landbou-uitstalling, landbougesprekke en honderde stalletjies met kunsvlyt en smulfeeskos. Selfs as finansies knyp, is gratis vermaak volop.
Op die RSG- en ATKV-Kuierkol-verhoog is daar ’n vol program van vroegoggend tot laataand, met regstreekse uitsendings op RSG.”
By die kykNET-leefarea in Baron van Reedestraat word storievertellings en gespreksreekse aangebied, insluitend teatergesprekke met feesikone.
Daagliks word vier boekstories gratis by die ATKV-Boeke-oase by Exclusive Books aangebied, terwyl aktuele kwessies in die Netwerk24-feeskafee bespreek word.
Onderhoude met bekendes word tydens Die Onderhoud gevoer.
Theart sê verder: “By vanjaar se 30ste KKNK is daar iets vir almal, en ons nooi almal uit om voluit saam fees te vier!”
KKNK 2026 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
Die volledige program is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets of by die KKNK se kantoor, 217 Jan van Riebeeckweg. Vir meer inligting, kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.