Yamkela Oliphant
Deur Wyndham Ewerts
Union Stars het Glen Roses van George Saterdag op die Bridgton Sportgronde in ’n SWD T20-wedstryd met 204 lopies verslaan.
Union Stars, wat die loot gewen en eerste gekolf het, het 239/3 opgestapel.
Hiervan het Yamkela Oliphant met aggressiewe kolfwerk ’n allemintige 149* lopies van slegs 69 balle gemoker! Sy beurt het 9 sesse en 14 viere ingesluit, en hy het sy 50-tal in die 6de boulbeurt behaal.
Wat Oliphant se prestasie nog meer uitsonderlik maak, is dat hy dit in sy eerste T20-wedstryd vir Union Stars behaal het.
Oliphant, wat voorheen vir Grens gespeel en vanjaar by Union Stars aangesluit het, speel ook vir SWD. Hy sê toe hy sy 50-tal bereik, het hy geweet dat hy ’n spesiale kolfbeurt gaan speel.
“Ek het die krieketbal teen dié tyd so groot soos ’n vlugbal gesien.”
Glen Roses is in hul kolfbeurt in die agtste boulbeurt vir ’n skamele 35 lopies uitgeboender.
In Union Stars se tweede T20-wedstryd van die dag het hulle vir Beaufort-Wes met 90 lopies geklop.
Stars het 172/3 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken waarna die besoekers slegs 82 lopies almal uit kon vermag.
In Union Stars se laaste wedstryd van die dag het hulle vir Bongulethu met 58 lopies volgens die Duckworth Lewis-metode geklop.
Stars het eerste gekolf en 144/8 op die telbord geplaas. Tydens Bongulethu se kolfbeurt het die reën egter neergestort. In daardie stadium het Bongulethu in die 11de boulbeurt slegs 35 lopies vir die verlies van 6 paaltjies behaal.
Union Stars speel nou op 13 Oktober in die kwarteinstryde op die Plate teen Hartenbos.