Fien Solomons, wyle Filicity Solomons se ma en Leane, Filicity se oudste suster, op die toneel van die brand. Foto’s: Angelique Erasmus
Twee inwoners van Bridgton, Oudtshoorn het vanoggend omstreeks 03:00 gesterf toe ’n brand drie houthuisies agter in die erf van Mullerstraat 2074 in puin gelê het.
Filicity Patricia Solomons (20) en Jacques Jakobs (32) was reeds dood toe die brandweer opgedaag het.
Jakobs, wat ses jaar lank in ’n verhouding was met Felicity, het in een van die huisies gewoon.
Die drie inwoners van die huisie langsaan is ongedeerd, asook die 17 mense wat in die huis op die erf woon. Die derde houthuis was gebruik as stoorkamer.
Daar word vermoed dat daar ’n kers omgeval het in Jakobs se huis. Die twee oorledenes se liggame in omstreeks 05:00 uit die huis verwyder.
“Ons sal haar nooit weer terugkry nie, die Here het haar by haar naam geroep,” het Fien Solomons, Filicity se ma, vanoggend gesê. Filicity was haar jongste kind.
“Ek het haar nog gisteraand geroep om kos te kom haal. Sy het die naweek by Jacques gaan kuier. Sy was so opgewonde en het die plekkie vir hulle mooi gemaak. Hulle het ses jaar uitgegaan en was baie erg oor mekaar. Daar lê nog rooi gordyne net so in ’n sak by my huis.”

Die verwoesting van vanoggend se brand in Bridgton.
Volgens Filicity se suster, Leane, het sy wakker geword toe sy gehoor het dat haar jonger suster, Elmarie, hul ma roep.
“Die hitte was te erg; ek kon nie eers naby die kraan kom nie. Daar was niks wat ek kon doen nie. Toe ek ’n ontploffing binne hoor, het ek geweet dit is te laat,” sê Leane terwyl sy hardop snik.
Leane woon in die erf agter waar die brand ontstaan het.
Die bure se dogter, Lynette Blom, was die eerste persoon wat bewus geraak het van die brand. Sy is gewek deur die vlamme wat langs haar venster gebrand het. Haar huismense het daarop hul bure gaan waarsku.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, doen die polisie tans ’n geregtelike nadoodse ondersoek gedoen.
Die inwoners van die erf het omtrent al hul meubels en klere verloor. Persone word aangemoedig om te help met steun. Donasies kan afgegee word by die Oudtshoorn Brandweer. Daar is veral ’n behoefte aan mansklere. (Deur Angelique Erasmus)