Weer tyd vir Meiringspoort!

Deur Higgo Jacobs
Alle paaie lei Saterdag, 13 Oktober 2018, na De Rust vir die uiters gewilde Mei­ringspoort Wedlope oor 21,1 km en 12,5 km wat die oggend by die NG Kerksaal op die dorp begin.

Die organiseerders wys atlete daarop dat die padwerke tussen Oudtshoorn en De Rust bykomende reistyd meebring. Daar is twee stop/ry-beheerpunte wat vertragings van tot 60 minute kan veroorsaak. Beplanning is dus die wagwoord, aangesien die laaste vervoer uit De Rust na die onderskeie wegspringplekke reeds om 05:30 vertrek.

Laatkommers sal ongelukkig nie toegelaat word om deel te neem nie.

Registrasie kan nog Vrydag, 12 Oktober 2018, tussen 11:00 en 21:00 by die kerksaal gedoen word, en weer Saterdagoggend van 04:30 tot 05:30.

Vervoer vir deelnemers aan die 12,5 km-wedloop vertrek vanaf 04:45 tot 05:30 voor die NG Kerk De Rust en vanuit die hoofstraat vir deelnemers aan die 21,1 km-wedloop.

Die wegspringtye vir die 12,5 km is 07:00 en vir die 21,1 km 07:15.

Die prysuitdeling is om 11:00 langs die kerk.

Soos in die verlede kan atlete en ander besoekers uitsien na die gewilde kerkbasaar wat na wat verneem word vanjaar nog groter en beter as vorige jare gaan wees.

Die basaar begin reeds Vrydag, 12 Oktober 2018 om 11:00 en eindig Saterdagmiddag, 13 Oktober 2018. Van die gewildste items by die basaar is die gewilde vleistafel met plaaswors en Karoolam, en die roosterkoektafel met roosterkoek wat De Rust se vroue oor die kole braai.