Spanning loop hoog op Rec

OUDTSHOORN, SOUTH AFRICA - JANUARY 07: Wayne Parnell of the Cobras celebrates taking a wicket during day 3 of the Sunfoil Series match between BuildNat Cape Cobras and bizhub Highveld Lions at Recreation Ground  on January 07, 2017 in Oudtshoorn, South Africa. (Photo by Michael Sheehan/Gallo Images)

OUDTSHOORN, SOUTH AFRICA – JANUARY 07: Wayne Parnell of the Cobras celebrates taking a wicket during day 3 of the Sunfoil Series match between BuildNat Cape Cobras and bizhub Highveld Lions at Recreation Ground on January 07, 2017 in Oudtshoorn, South Africa. (Photo by Michael Sheehan/Gallo Images)

DIE Builtnat Cape Cobras het die Bizhub Highveld Lions op die Rec op Oudtshoorn met 6 paaltjies geklop in ’n geskiedkundige wedstryd waarin verskeie Protea-spelers gespeel het.

Die wedstryd, wat van verlede Donderdag tot Sondag plaasgevind het, is die eerste wedstryd in die Sunfoilreeks wat op die Rec gespeel is.

Dit was ’n spannende wedstryd waarin Wayne Parnell, wat as Protea-bouler bekendheid verwerf het, as openingskolwer ’n honderdtal (103 lopies van 131 balle) vir die Cobras in hul tweede kolfbeurt aangeteken het.

Dit was die Cobras se eerste oorwinning onder hul nuwe afrigter, Ashwell Prince.

Die Lions is in sy tweede kolfbeurt met ’n voorsprong van 236 lopies uitgeboul. Die Cobras het hul teiken van 237 in 34,3 boulbeurte behaal.

Omphile Ramela en Stiaan van Zyl het albei ook goed gekolf. Ramela het ’n openingsvennootskap van 74 lopies saam met Parnell behaal waarna Parnell en Van Zyl ’n tweedepaaltjievennootskap van 125 lopies aangeteken het.

Parnell is aangewys as Speler van die Wedstryd.

• Prince was ná die wedstryd vol lof vir die SWD vir hul aanbieding van die wedstryd. Hy het namens die Cobras se bestuur en spelers die SWD se bestuur en personeel bedank vir wat hulle vir die span gedoen het tydens hul ses-dae-lange besoek aan Oudtshoorn.

Hy het Albertus Kennedy, uitvoerende bestuurder van SWD Krieket, terreinpersoneel, bestuur en alle ander betrokkenes bedank vir die manier waarop “julle uit jul pad gegaan het om ons op ons gemak en welkom op Oudtshoorn te laat voel.

“Op ’n persoonlike noot wil ek noem dat dit my eerste besoek aan die Rec was, en dat ek werklik baie uitsien na die volgende een!” het Prince gesê.