SEWE provinsies – WP, Boland, SWD, OP, Vrystaat, Griekwas en Grens – spook sake weer Saterdag, 4 Februarie, in die hitte van die Klein Karoo uit tydens die 26ste Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms op Oudtshoorn.
Die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport en die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit is medeborge van die byeenkoms waaraan daar verlede jaar meer as 400 atlete deelgeneem het.
Die wedlope begin om 08:00 in die De Jager Sportstadion ná die amptelike opening van die byeenkoms om 07:30. Daarna vind die swemitems by die NA Smit-swembad plaas. Toegang is gratis!
Van Suid-Afrika se top tweekampatlete het ingeskryf vir die byeenkoms wat vir baie spanne dien as voorbereiding vir die SA Kampioenskap wat vanjaar op 8 April in die Paarl plaasvind.
Highgate Volstruisplaas, Hisense en die Kango Grotte borg aansporingpryse vir alle wenners.
Die byeenkoms is naas die SA Kampioenskap die grootste tweekampbyeenkoms in Suid-Afrika.
Elke provinsiale span mag ’n ontwikkelings- en/of B-span inskryf. Dit is een van die min byeenkomste waar ontwikkelingsatlete tot hul reg kan kom. Daar is vanjaar ’n item vir o.8’s (swem 25 m en hardloop 400 m) en ’n kategorie vir hoër- en laerskole.
Daar is vanjaar weer ’n item vir gestremde atlete: 400 m op die baan en 50 meter-swem. Om hiervoor in te skryf, skakel gerus 0827734901.
Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, wat ’n groot kampvegter vir sporttoerisme is – gaan die byeenkoms Saterdagoggend open.
Vir navrae skakel Dave van der Walt by 0827734901.