Rolbal driespeltoernooi herleef

Timbercity Oudtshoorn is as sakeonderneming met plaaslike eienaarskap nog altyd daarop ingestel om die plaaslike gemeenskap op onder meer sportvlak te ondersteun. Timbercity se jongste borgskap, saam met PG Glass, is om die jaarlikse driespelrolbaltoernooi van die Oudtshoorn Rolbalklub te laat herleef. Die toernooi, vanjaar bekend as die Timbercity / PG Glass Driespelrolbaltoernooi, aangebied deur die Oudtshoorn Rolbalklub, vind op Vrydag en Saterdag, 1 en 2 Julie, plaas.

DANKSY ’n stewige borgskap deur Timbercity/PG Glass gaan die bekende driespeltoernooi van die Oudtshoorn Rolbalklub herleef met die toernooi wat vanjaar op Vrydag en Saterdag, 1 en 2 Julie, gaan plaasvind op die klub se bane.

Die toernooi wat van 1993 tot 2016 jaarliks plaasgevind het, het spelers, waaronder talle Protea-spelers, van wyd en syd gelok. Destyds het tot 60 spelers aan die toernooi deelgeneem, en is dit op die Oudtshoorn Rolbalklub en die Weermag se rolbalbane aangebied.

Die toernooi is in die verlede deur CP Nel Motors geborg. Ná die dood van mnr Rodney Mileham, wat eienaar van CP Nel Motors was, het die driespeltoernooi doodgeloop.

Jan van Niekerk, president van die Oudtshoorn Rolbalklub, het sy dank teenoor André van Greunen, eienaar van Timbercity en PG Glass, uitgespreek vir sy bydrae om die toernooi, een van die grootstes wat altyd deur die klub aangebied is, te laat herleef. “Die toernooi het doodgeloop weens ’n gebrek aan borgskappe. Vanjaar se prysgeld is die hoogste wat dit nog was.”

Volgens hom het dertig driespanne, dus negentig spelers, reeds ingeskryf. “Ons oogmerk is om altesame 36 spanne te probeer kry om deel te neem.

Spelers van so ver as Makhanda, Gqberha en Kaapstad het reeds ingeskryf. Onder die spelers wat ingeskryf het, is twee Proteaspelers van George, Billy Radloff en Colleen Piketh.

Van Greunen sê as plaaslike onderneming steun hulle waar moontlik plaaslike sportgebeurtenisse. “Die driespeltoernooi het ’n lang geskiedenis en ons is trots om daarmee geassosieer te word.”

Be the first to comment on "Rolbal driespeltoernooi herleef"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*