Nico-Meyer le Roux (links) en Lara le Roux (regs) jaag dat die stof so staan tydens die jaarlikse Fauresmith-uithourit. (Foto verskaf.)
TWEE plaaslike jong perderuiters, Lara le Roux (19) en haar broer Nico-Meyer le Roux (21), het eerste plekke behaal by die uitmergelende Fauresmith Perde-uithourit wat van Dinsdag, 2 Julie, tot Donderdag, 4 Julie plaasgevind het.
Die Le Rouxs, van die plaas Kommandantsdrift in die Kammanassie, het vanjaar die sesde keer die Vrystaatse koue, wat vanjaar in die oggende so laag as -5grade C was, aangedurf om deel te neem.
Die Fauresmith-uithourit is die grootste uithou-rit in Suid-Afrika.
Lara het op die reunperd Koringkloof Fadjur en Nico-Meyer op die reunperd Welbech Jamal die WP verteenwoordig.
Nico-Meyer het die standaardgewig-afdeling gewen en was ook algeheel eerste in ’n tyd van 8 uur 6 min 36 sek.
Lara het die liggewigafdeling gewen en was algeheel tweede in 08:06:46, slegs 10 sekondes agter haar broer oor die drie dae.
Dit is die eerste keer dat ’n broer en suster die eerste en tweede plekke by Fauresmith behaal.
Hulle het ’n gemiddelde snelheid van 25,4 km/h gehandhaaf.
Nico-Meyer het verlede jaar ook die standaard-afdeling gewen, maar was toe algeheel tweede.
Hy was in 2015 eerste en het toe die junior en senior rekords verbeter.
Lara het die uithourit in 2016 gewen.
Albei behoort aan die Garden Route uithourit-klub en het albei junior en senior Springbokkleure verwerf.
Lara en Nico-Meyer was in die Laerskool Wesbank. Nico-Meyer het aan Langenhoven Gimnasium gematrikuleer en Lara aan die Hoërskool Outeniqua. Hul ouers is Meyer en Petro le Roux.