R22 miljoen se tiksaak teen twee buitelanders weer in Oktober voor

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n Nigeriese man en ’n vrou van Zimbabwe wat tereg staan op klagtes van handeldryf in en die besit van dwelms ten bedrae van miljoene rande, is na nog twee dae se verhoor in die Oudtshoorn Streekhof tot Oktobermaand uitgestel.

Hillary Anyaneto en Lorraine Mwandicitiva is in Mei 2017 op die N2 buite Beaufort-Wes in hegtenis geneem met 70 kg se tik en 5 kg se kokaïen wat in hul voertuig versteek was.

Die waarde van die dwelms was sowat R22 miljoen.

Die twee se regsverteenwoordiger, adv RW Montana, het verlede week beswaar aangeteken teen die versoek van die staatsaanklaer, Willem Vister, om vier polisiebeamptes as getuies te roep.

Montana het beswaar gemaak omdat die polisiebeamptes nie verklarings afgelê het wat aan die verdediging beskikbaar gestel is nie.

Volgens Montana weet hy nie waaroor die getui­es sal getuig nie en kan hy dan nie voorbereid wees vir kruisondervraging nie.

Nadat die staat ingestem het om die verklarings te laat afneem en aan die verdediging beskikbaar te stel, is die verhoor met die getuienis van ’n voormalige stasiebevelvoerder op Beaufort-Wes voortgesit.

Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius.

Dit is na die kruisondervraging van die getuie vir verdere verhoor tot 15 Oktober 2019 uitgestel.

Anyaneto se borg van R20 000 sowel as sy borgvoorwaardes is verleng, terwyl Mwandicitiva in aanhouding bly.