Man moet betaal vir herstel van telefoonhokkie

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Oudtshoorn wat aan poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en kwaadwillige saakbeskadiging skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof opge­skorte vonnisse opgelê en gelas om die herstelkoste van ’n ou telefoonhokkie te betaal.

Die 28-jarige Shane van der Schyff het die aand van 21 Januarie 2017 twee neefs, Jestiny Booysen en Ruaad Booysen, in Baron van Reedestraat met ’n skerp voorwerp aangeval en ook die deur van die telefoonhokkie op die perseel van die CP Nel Museum stukkend geskop.

Hy het na Jestiny Booysen se nek gemik en Ruaad Booysen in die voet gesteek.

Streeklanddros Retha Pretorius het die eerste twee klagtes vir vonnisdoeleindes saam geneem en Van der Schyff daarvoor vyf jaar tronkstraf opgelê wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Verder is hy ingevolge Art 276 (1) (h) vir 24 maande tot korrektiewe toesig gevonnis wat beteken 24 uur onder huisarres vir die volle tydperk, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes asook 16 uur gemeenskapswerk per maand. Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van alkoholiese drank en dwelmmiddels wat nie voorgeskryf is deur ’n mediese praktisyn nie.

Op die klagte van kwaadwillige saakbeskadi-ging is hy gevonnis tot vier maande gevangenisstraf wat ook voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Van der Schyff moet ook R3 000 teen maandelikse paaiemente van R500 aan die CP Nel Museum betaal vir die skade wat hy aan die telefoonhokkie aangerig het. Hy is voorts onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.