Die 17de Momentum Medical Scheme Cape Pioneer, aangebied deur Biogen, het vanjaar weer sy reputasie as die bergfietsren “met siel” (#RaceWithSoul) bevestig. Die vyfdaagse UCI-status-etapren, wat van 22 September tot 26 September 2026 plaasgevind het, het deelnemers tot die uiterste beproef met ’n uitdagende roete van 392 kilometer en meer as 7 000 meter se klimwerk.
Die wedren het in die pragtige kusdorpie Wilderness in die Tuinroete afgeskop, waarna ryers hul pad oor die ruwe Outeniqua-berge en deur digte, inheemse woude moes baan. Die roete het verder deur die Langkloof geslinger voordat dit in die droë, veeleisende landskappe van die Klein Karoo geëindig het.
Die finale skof se eindstreep is op Saterdag, 26 September, in Oudts-hoorn oorgesteek, waar deelnemers met groot entoesiasme ontvang is.
In die Elite Mans-afdeling het die span Honeycomb 226ers, bestaande uit Marc Pritzen en Felix Stehli, van die begin af hul oorheersing gewys. Met konsekwente en taktiese rywerk het hulle hul voorsprong deurentyd beskerm en uiteindelik as algehele wenners gekroon met ’n indrukwekkende tyd van 14:43:58. Jan Withaar en Wessel Botha van Insect Science Safari Essence het tweede geëindig, terwyl Ignatius du Preez en Lood Goosen van Toyota Specialized Imbuko die derde plek ingeneem het.
Die Elite Vroue-wedloop is oorheers deur Samantha Sanders en Sarah Maré van Efficient Infinity Insure. Die duo het met selfvertroue en deursettingsvermoë elke skof aangepak en die algehele titel verower in ’n tyd van 18:11:51.
Chloé Hopf en Lilian Baber van Hollard Summerplace Racing het tweede geëindig, met Rachel Seaman en Bianca Botha van Cycle Nation Enza Construction wat, ten spyte van uitdagings, die derde plek behaal het.
Die 2026 Cape Pioneer het weereens bewys waarom dit een van Suid-Afrika se voorste bergfietsbyeenkomste is. Met asemrowende natuurskoon, strawwe kompetisie en ’n unieke gees van kameraadskap, bly hierdie wedren ’n hoogtepunt op die internasionale bergfietskalender. (GRANWILLE GOLIATH)
Oorwinning en geesdrif by die 2026 Cape Pioneer MTB
Foto’s: Oakpics
Be the first to comment on "Oorwinning en geesdrif by die 2026 Cape Pioneer MTB"