Deur Higgo Jacobs
DIE SWD Meestersatletiekkampioenkap tesame met ’n talentidentifiseringsbyeenkoms vind Saterdag in die De Jagerstadion op Oudtshoorn plaas.
Die byeenkoms word in samewerking met Atle-tiek SWD aangebied. Dit is die laaste byeenkoms vir meesters vir die jaar.
Volgens Chris van Wyk, voorsitter van SWD se Meestersatletiekvereninging, is daar vanjaar sowat 70 inskrywings uit sewe provinsies ontvang.
Volgens hom word leerders in die ouderdomsgroep 15 tot 17 jaar oud na die toernooi genooi om skole die geleentheid te gee om hul talentvolle atlete vroegtydig te identifiseer en gereed te kry vir die atletiekseisoen wat voorlê.
Benewens die baannommers sal daar in vyf veldnommers meegeding word, naamlik spiesgooi, diskus, hamergooi, massabal en gewigstoot.
Saterdag se program begin reeds om 07:00 met die 5000 m stap en -hardloop. Die program loop om 16:00 ten einde met die 200 m-wedlope vir die verskillende ouderdomsgroepe.
“Ons glo dat die deelname van oud en jonk ’n aangename gees in die stadion skep en vir jonger atlete wys dat jy selfs op ’n hoë ouderdom nog mededingend kan wees,” het Van Wyk gesê.
Baie van die atlete vertrek eers weer Sondag terug na hul onderskeie bestemmings en plaaslike gastehuise, hotelle en restaurante vind baat by die groot getal atlete en hul ondersteuners wat Oudtshoorn besoek.
Oudtshoorniete word genooi om die atletiek-aksie te kom geniet en atlete te ondersteun en aan te moedig.