Meer as 4 000 wedlopers trotseer Meiringspoort

Foto: Hezali Nel

Die asemrowende berge van Meiringspoort het Saterdag, 11 Oktober, die verhoog gebied vir die 31ste Meiringspoort 21,1 km en 12,5 km-wedlope, waaraan atlete van regoor Suid-Afrika deelgeneem het.

Die Meiringspoort-wedloop, wat deur ASWD (Eden Atletiek) en die Munisipaliteit van Oudtshoorn ondersteun word, het weereens sy doel bereik, om nie net ’n sportbyeenkoms nie, maar ook ’n viering van gemeenskap en toerisme in die streek te wees.

“De Rust het weereens bewys dat dit ’n gemeenskap is met ’n groot hart. Julle trots en toewyding het hierdie dag onvergeetlik gemaak,” het die Uitvoerende Burgemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Johan Allers, gesê.

Hy het het ook sy waardering en opregte dank uitgespreek teenoor die organiseerders, deelnemers, toeskouers, gaste en inwoners van De Rust vir hul besondere bydrae tot dié reusesukses.

Om die plaaslike ekonomie ’n hupstoot te gee, is besluit om die aantal deelnemers vir die 2025-wedloop te verhoog. Volgens die organiseerders het belangstelling die hoogte ingeskiet, en plekke was blitsig vol.

Die 12,5 km-afdeling het om 07:00 weggespring, gevolg deur die halfmarathon om 07:15. Beide het by die NG Kerk op De Rust geëindig, waar die prysuitdeling 11:00 plaasgevind het.

Meiringspoort was tussen 05:00 en 11:00 vir verkeer gesluit om die veiligheid van deelnemers te verseker, en die wedloop het sonder enige groot voorvalle verloop.

Baie atlete het op sosiale media hul bewondering gedeel vir die natuurskoon en die besondere atmosfeer wat die poort jaar na jaar bied.

“Dis altyd ’n eer om deur Meiringspoort te hardloop. Die stilte, die vars lug en die gevoel van trots wanneer jy die eindstreep oorsteek is ongelooflik,” het een deelnemer gesê.

Alle deelnemers wat binne die tydsbeperkings voltooi het, het medaljes ontvang.