Laaste ronde van 190’s

Die voorlopers in afd A van die 190’s-reeks, Elmarie Lategan, Maryna Olivier (kapt), Rida Bester en Christine van Coller, is almal van Wesbank Tennisklub. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE laaste ronde wedstryde in vanjaar se 190’s spankompetisie van die Eden Seniors Tennisvereniging word Saterdag op die bane van die Mosselbaai en Hartenbos Tennisklubs gespeel.

Altesame 28 spanne, 16 mans- en 12 vroue­spanne, neem deel.

Die verdedigende vrouekampioene in afd A, Maryna Olivier (kapt), Christine van Coller, Elmarie Lategan en Rida Bester, en die mansspan van Jacques de Beer (kapt), Wimpie Helmand, Charl Opperman en Daan Spengler, sal alles uithaal om hul titels te behou.

Olivier se span loop gerieflik voor met 215 punte teenoor die 191 van Debra Hyde se span.

De Beer se span is met 160 punte tweede, twee punte minder as Willie Breytenbach se span, wat 162 punte het.

In afd B (mans) sal die spanne van Hugo van der Berg (162 punte) en Louis du Preez (160 punte) dit om die trofee uitspook.

Die afd B-span van Helena Haasbroek het reeds 265 punte en sal moeilik ingehaal word.

Wedstryde begin stiptelik om 09:00 en spe­lers moet reeds om 08:00 by die Mosselbaai Tennisklub aanmeld.

Die prysuitdelingsfunksie vind onmiddellik ná die laaste wed- stryd plaas.