


KOUE en nat toestande het die naweek die sowat 50 perde-uithouritdeelnemers begroet op Louvain Gasteplaas, sowat 50 km buite Oudtshoorn.
Die ruiters het teen mekaar kompeteer in die 40 km- en 80 km-kategorieë. Met die gure weer is daar besluit om eerder nie die 120km- en 160km-ritte aan te bied nie.
Saul van Wyk en die perd Zamir het Vrydag eerste oor die wenstreep galop en Bianca Venter en Zakai kort op hul hakke in die standaardgewigkategorie. Beide perde behoort aan George Nel van Matjiesrivier. Nico-Meyer le Roux en sy bobaasperd BK Habanero was Saterdag eerste oor die wenstreep in die liggewigkategorie. BK Habanero het in 2022 Fauresmith gewen met Michael Vaaltyn op sy rug en was derde by die SAIC (South African International Competition) in Mei vanjaar, in die 120 km-kategorie.
Lizel de Waal en haar perd Kanna Shalom was die eerste standaardgewigruiter.
Afgesien van die koue, nat toestande, het ruiters en hul “grooms” Vrydagaand heerlik om die braaivleisvure by Louvain gekuier. Louvain se Morne en Douglas Jonker en hul span het hulself weereens oortref.
Daar was net een ernstige voorval op die baan, waar ’n junior ruiter van haar perd af geval het nadat hy geskrik het. Theo Gouws en sy span van Klein Karoo Event Medics was spoedig op die toneel en het haar met uiterse sorg en professionaliteit gehelp. Sy is later per ambulans na George geneem, maar het wonderbaarlik geen ernstige beserings of beenbreuke opgedoen nie.
Daar het ook nege perde tydens die rit uitgeval op die tegniese baan, met die koue en nat weerstoestande wat dit nog moeiliker vir ruiters en hul perde gemaak het.
Hierdie was die derde rit by Louvain Gasteplaas, wat nie net sorg vir regte boeregasvryheid nie, maar ook ongelooflike uitsigte op die baan van die berge, dale en groen lande. (Deur Angelique Erasmus)