Kort Sportnuus

Cobras speel op Rec

DIE Oudtshoorn Sportgronde (Rec), wat die hoofkantoor van SWD Krieket huisves, speel deesdae gereeld gasheer vir Sunfoil-krieketwedstryde tussen die groot kanonne.

Die WSB Cape Cobras pak die Hollywood Bets vanaf Maandag tot Donderdag, 23 tot 26 Oktober, op die Rec.

Hoewel die spanne nog nie gefinaliseer is nie, sal die Protea-sterbouler Vernon Philander vir die Cobras in aksie wees, en Morné van Wyk, Khaya Zondo en Dane Villas, wat ook al drie al vir die Proteas gespeel het, vir die Dolphins.

Spel begin om 10:00 en toegang is gratis.

Premierliga skop af

DIE SWD Premier-eendagkrieketliga skop Saterdag af, met die SWD Twintig20-krieketweek wat so pas afgehandel is.

Die Twintig20-reeks is die afgelope Saterdag deur Mosselbaai gewen. Hulle het George in die eindstryd oortuigend met 56 lopies gewen. Mosselbaai het in die halfeindstryd vir Harlequins met 21 lopies geklop.
In die eerste ronde van die Premierliga pak Union Stars, die verdedigende kampioenspan, vir Western Hope op die Bridgton Sportgronde.

In nog ’n Premierliga-wedstryd Saterdag speel Mosselbaai op Mosselbaai teen Harlequins.
Sondag speel Union Stars op die Bridgton Sport- gronde teen Ramblers en Harlequins op die Weermagterrein op Oudtshoorn teen Western Hope.

Klein Karoo/Eden-straatmyl op pad

DIE Bestmed Klein Karoo/Eden-straatmylreeks onder die beskerming van die KKAF is om die draai met top-atlete en -fietsryers wat reeds aangedui het dat hulle beoog om deel te neem.
Prysgeld van R80000 is op die spel.

Die eerste been van die reeks, die Klein Karoo Straatmyl, vind op Saterdag, 16 Desember, in Ba-ron van Reedestraat op Oudtshoorn plaas. Die tweede been, die Madibaz Straatmyl, vind Maan-dag, 18 Desember, op die NMU-kampus op George plaas en die derde been, die ATKV Straatmyl, op 20 Desember op die ATKV-terrein op Hartenbos.

Bestmed, ’n mediese hulpskema, het vanjaar sy borgskap vergroot vir dié vakansiereeks wat in vennootskap met Atletiek SWD, Eden Fietsry, NMU en die ATKV aangebied word.
Die afgelope twee jaar vorm fietsry ook deel van die straatmylreeks.

Inskrywings vir al die items kan binnekort aanlyn gedoen word by www.edenmiles.co.za. Alle inligting oor die byeenkoms is ook op die webblad beskikbaar.

SWD-vroue in aksie

DIE SWD Vrouekrieketspan speel die naweek op die Bridgton Sportgronde teen die OP in hul eersterondewedstryd in Krieket Suid-Afrika se provinsiale vroueliga.

Die spanne speel Saterdag ’n eendagwedstryd en Sondag ’n T20-wedstryd.