
Die NA Smit Swembad op 17 Oktober 2017. Foto: SWD Tweekamp op Facebook
Die groen water van die NA Smit Swembad waarin atlete gisteraand tydens die jaarlikse SWD-proewebyeenkoms op Oudtshoorn moes swem, het SWD Tweekamp genoop om op hul Facebook-bladsy verskoning te vra, al is hulle nie verantwoordelik vir die toestand van die swembad nie.
Die toestand van die swembad, wat onder die beheer van die Oudtshoorn Munisipaliteit val, is gistermiddag onder die aandag van Die Hoorn gebring. Die Hoorn het die munisipaliteit daaroor gekontak en verwag terugvoer vandag.
SWD Tweekamp skryf as volg op hul Facebook-bladsy: “SWD Tweekamp vra om verskoning aan alle atlete vir die “groen” swembad. Dit is egter buite SWD Tweekamp se beheer aangesien dit die Oudtshoorn Munipaliteit se verantwoordelikheid is. Dit blyk nou ‘n gereelde probleem te word en kan lei tot die verlies van groot galas vir Oudtshoorn. Dit op sigself gaan die ekonomiese inspuiting met miljoene benadeel. Sporttoerisme kan net skade lei. Daar is min dorpe in die land wat kan spog met beter sportfasiliteite maar swak of geen onderhoud maak beslis afbreuk daaraan.”