Jukskeiklub woeker om bane te verbeter

Lede van Oudtshoorn Jukskeiklub. Foto verskaf

Skaars ’n jaar na die totstandkoming van die Oudtshoorn-jukskeiklub is daar reeds 27 spelers wat gereeld oefen en reeds hulle stempel op streeksvlak afgedruk het.

Die stigters van die klub het vroeg in 2024 met die munisipaliteit onderhandel om die jukskeibane by die De Jager-sportkompleks te gebruik.

Op daardie stadium was die bane reeds vir jare in onbruik. Met die klub se inisiatief is die bane weer herstel en nou wil die klub graag verdere verbeteringe aanbring.

Klubvoorsitter, Hercules Kritzinger, het hierdie week ’n beroep op die sakegemeenskap van Oudtshoorn gedoen om betrokke te raak sodat gedeeltes by die bane geplavei kan word.

“Om hierdie projek suksesvol te voltooi benodig ons dringend plaveiselstene vir die aanleg van die speelveld se areas.

Hierdie verbetering sal nie net die speeloppervlak veiliger maak nie, maar sal ook bydra tot ’n meer professionele en uitnodigende sportomgewing,” sê Kritzinger in ’n skrywe wat hy aan besighede rig.

Hy noem dat die klub reeds verskeie wedstryde hier aangebied het en dat 12 van hulle spelers die klub reeds by Eden verteenwoordig het.

Drie lede het ook aan die SA-akademieweek deelgeneem. “Indien ons, ons velde kan verbeter kan meer lede moontlik kwalifiseer vir Eden-kleure,” sê hy.

Die klub nooi lede van die publiek ook sommer vroegtydig uit om 15 en 16 Augustus opsy te sit vir twee dae se jukskei-pret. Op Vrydag 15 Augustus word dubbels gespeel en spanne kan vir die A, B en C afdelings op Saterdag 16 Augustus inskryf.

Vir meer inligting of om betrokke te raak by die projek van die Oudtshoorn jukskeibklub kontak gerus vir Hercules Kritzinger by 060 997 5576 of per e-pos by Hercules.kritzinger@pepsico.com. (HANNES VISSER)