Oudtshoorn is weer van Vrydag 8 tot Sondag 10 Augustus die tuiste van klassieke musiek met die jaarlikse Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn.
Vanjaar is die program weer gevul met musiek, boeke, kos en wyn.
Maestro Richard Cock en die Kaapstadse Feesorkes is op 9 Augustus op die verhoog met die Klein Karoo Klassique Galakonsert saam met die Charl du Plessis Trio en opkomende operaster Nonhlanhla Yende. Sy is een van ’n nuwe ge-nerasie briljante sangers wat tans opslae in die Suid-Afrikaanse musieklandskap maak.
Vrydagaand 8 Augustus, is daar ’n onvergeetlike klavier-ekstravaganza in Klavierkoors. Nina Schumann, Megan-Geoffrey Prins, José Dias en Charl du Plessis deel die verhoog met werke vir vier, ses en agt hande, waaronder musiek van Rachmaninoff, Schubert, en selfs verrassende klanke van John Lennon – ’n simbiose van klassieke tradisie en moderne klanke.
Voces Cordis, onder leiding van die bekroonde koorleier André van der Merwe, tree vir die eerste keer by Klassique op (10 Augustus 12:30), met gewyde koorwerke deur komponiste soos Andrey Makor en Jacob Handl, kontemporêre werke deur Laura Jēkabsone en Jacob Collier, ’n Letlandse volkslied, en Mia Makaroff se Didn’t My Lord Deliver Daniel. Die koor deel ook hul eie vertolking van die geliefde Afrikaanse Voshaarnooi.
Zorada Temmingh is vir die eerste keer sedert 2009 by Klassique. Sy word beskou as een van Suid-Afrika se voorste orrel-improvisators en speel werke van gewilde orrelkomponiste, waaronder Johann Pachelbel en Léon Boëllmann, asook van haar eie komposisies en improvisasies op kerkliedere.
Hierdie is maar drie van die nege items wat op feesgangers wag.
Elke feesdag begin met ’n ontbytkonsert om 08:00, waar klassieke musiek en ’n heerlike ontbytspys-kaart byeenkom.
Hierdie gratis konserte word soggens in die Banketsaal aangebied.
Daar is ook ’n kunsuitstalling in die banketsaal. Die Klassique-feesrestaurant bedien daagliks ontbyt, middag- en aandete, met ander lekkernye wat tussendeur beskikbaar is. Heerlike wyne word ook hier bedien.
Musiekgesprekke word na afloop van uitgesoekte uitvoerings aangebied, onder leiding van gasheer Charl du Plessis.
Drie Boekgesprekke word aangebied, moontlik gemaak deur NB Uitgewers. PJO Jonker gesels oor Die Onsigbare, Juliette Mnqeta oor If The Dead Could Talk en Willem Anker oor Patmos.
Klein Karoo Klassique is om die draai
