Groter Oudtshoorn Domino’s unie verkies nuwe bestuur

Van agter links: Charlton Olkers (wedstrydseketaris) en Elton Wagenaar (seketaris). Voor links na regs: Andrew Ruiters (mediabeampte), Bernard Jonathan (voorsitter), Justin George (ondervoorsitter) en Granwille Goliath (tesourier). Foto verskaf

Die Groter Oudtshoorn Domino’s Unie het op Sondag, 25 Januarie 2026, sy algemene jaarvergadering gehou, waar lede bymekaargekom het om die afgelope jaar se aktiwiteite te bespreek en ’n nuwe bestuur vir die komende termyn te verkies.

Die vergadering het in ’n positiewe en same-werkende gees plaasgevind, met die fokus op groei, eenheid en die bevordering van domino’s as ’n georganiseerde sport in die Groter Oudtshoorn-gebied.

Tydens die vergadering is ’n nuwe bestuur demokraties verkies om die unie vorentoe te lei.

Die bestuur het hul dank uitgespreek teenoor die uittredende lede vir hul bydraes en toewyding aan die ontwikkeling van die unie.

Die nuwe bestuur het hulle daartoe verbind om voort te bou op die stewige grondslag wat reeds gelê is en om verdere geleenthede vir spelers en klubs in die streek te skep.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het ook hul ondersteuning aan die unie bevestig deur domino’s en reflekteerbaadjies aan die organisasie te skenk.

Hierdie skenking sal ’n groot bydrae lewer tot die veiligheid en professionalisering van domino-aktiwiteite, veral tydens toernooie en gemeenskapsgeleenthede. Die unie het hul opregte waardering uitgespreek teenoor die munisipaliteit vir die voortgesette ondersteuning.

Verlede jaar het die Groter Oudtshoorn Domino’s Unie ’n belangrike mylpaal bereik met die ontvangs van hul NPC-registrasienommer.

Hierdie stap het die unie in staat gestel om meer gestruktureerd te funksioneer en om formeel as ’n nie-winsgewende organisasie erken te word.

Verder het die unie ook hul betrokkenheid by gemeenskapsinisiatiewe getoon deur die wenprys te borg vir die Sudoku-kompetisie wat verlede jaar in Die Hoorn verskyn het.

Hierdie borgskap weerspieël die unie se verbintenis tot gemeenskapsontwikkeling en die be-vordering van ontspanningsaktiwiteite vir alle ouderdomme.

Die Groter Oudtshoorn Domino’s Unie nooi alle belangstellendes wat graag deel van die unie wil word of meer wil uitvind oor domino-aktiwiteite, uit om kontak te maak met die voorsitter, mnr. Bernard Jonathan, by 066 185 5007. (GRANWILLE GOLIATH)