DIE A-span van Collegians het Adias A Saterdag oortuigend met 38-3 verslaan in ’n SWD Presidentsligawedstryd op Oudtshoorn. Die wenspan het rustyd reeds met 24-3 voorgeloop.
Dit is ’n wedstryd wat Adias so gou as moontlik wil vergeet. Daar was weinig sprake van aanvallende spel deur die span, en hul verdediging was boonop flou.
Collegians daarenteen het met passie gespeel. Die voor- en agterspelers het goed saam gespeel en mekaar ondersteun.
Collegians se agtsteman Angelihano Goliat en flanke Evano Holley en Michael Tyali het ’n bars gespeel en by die afbreekpunte vir Adias ore aangesit. Goliat is vir die tweede wedstryd agtereenvolgens aangewys as speler van die wedstryd.
Agterlangs was die twee senters, Willem Goliath en Gerthwin Jonathan, ’n doring in die vlees van Adias.
Marius Mei en Seppie Ekstraal, afrigters van Collegians, kan tevrede voel met hul spelers se spel in die eerste ronde van die liga en voel positief oor die tweede ronde wat voorlê.
Vir Collegians het Willem Goliat, Gerthwin Jonathan, Jason Plaatjies, Angelihano Goliat en Michael Tyali elk ’n drie gedruk. Keegan Makshella het vier van die vyf drieë verdoel en ’n strafdoel aangeteken.
• Collegians B het Adias B met 41-22 geklop nadat hulle rustyd met 22-10 voorgeloop het.
• Collegians se eerste wedstryd in die tweede ronde is op Saterdag, 6 Julie, op die Oudtshoorn Sportgronde teen Uniondale.