Laerskool Wesbank se jong krieketspelers het onlangs hul staal gewys tydens die Rising Stars-toernooi en met trots hul skool se naam hoog gehou.
In die o. 11-afdeling het Daniël Odendaal en Daniël Nel uitstekend presteer as deel van die Rising Stars-span wat as kampioene van die kompetisie gekroon is.
Die span het deurgaans goeie samewerking en vaardigheid getoon om uiteindelik die titel in te palm. ’n Spesiale gelukwensing gaan aan Daniël Odendaal, wat boonop aangewys is as die beste kolwer van die o. 11-kompetisie – ’n merkwaardige prestasie.
In die o. 13-afdeling het vyf Wesbank-seuns, naamlik Arjan Blignaut, Stephan Nel, Ziaan Broodryk, André Bothma en Jeandré Alberts, ook hul merk gemaak.
Die span het deurentyd sterk vertonings gelewer en met vasberadenheid tot die finale rondte deurgedring.
Alhoewel hulle in die eindstryd teen Blanco Strikers vasgeval het, het die o. 13-span as trotse naaswenners geëindig.
Hul deursettingsvermoë en spanwerk het groot indruk gemaak en beloof baie vir die toekoms.
Baie geluk aan al die Wesbank-krieketseuns met hul uitstekende prestasies. Julle het bewys dat harde werk en toewyding beloon word en dat ware spanwerk tot sukses lei. (GRANWILLE GOLIATH)
Wesbank-krieketseuns blink uit by Rising Stars-toernooi
Foto verskaf.
Be the first to comment on "Wesbank-krieketseuns blink uit by Rising Stars-toernooi"