Perseverance wil jong spelers ontwikkel

DIE Perseverance Rugbyklub op Oudts­hoorn het Saterdag die tweede naweek na mekaar ’n ontwikkelings-afrigtings­kli­niek vir laerskoolleerders van die dorp aangebied.

Dié keer was dit die beurt van ’n groep jong rugbyspelers van Bongolethu Primêr op die Bongolethu Stadion. Die voorafgaande Saterdag was leerders van Saturnus Primêr aan die beurt.

Volgens Greg Baartman, mediabeamp­te van die klub, is die klub daartoe ver­bind om jong rugbyspelers in die Groter Oudtshoorn te ontwikkel en sal hulle graag ook skole soos Colridge Primêr, Bergsig Primêr, Dysselsdorp Primêr, Laerskool Van Reede, Laerskool Wesbank en Laerskool Laurus wil besoek om ’n afrigtingskliniek daar aan te bied.

Intussen het die klub, wat in 1992 onaktief geraak het maar verlede jaar herleef het, regsaksie begin nadat hul aansoek vir toelating tot die SWD Karoostreekliga op 30 November verlede jaar deur die SWD-rugbyunie afgekeur en daar aanbeveel is dat hulle in die SWD landelike ligatoernooi moet meeding. Volgens Baartman betwis Perseverance dié beslissing en is hulle baie ongelukkig oor die wyse waarop hul aansoek deur die SWD Karoostreek en die SWD Rugbyunie hanteer is. “Die landelike liga is ’n liga vir landelike spanne en meer sosiaal van aard. Perseverance is ’n dorpspan.”

Hy sê hulle het notules van die SWD se Al­gemene Jaarvergadering en ander inligting aangevra, maar daar is aan hulle gesê dit kan eers na 2020 se jaarvergade­ring aan hulle beskikbaar gestel word.

Hy sê die klub spog met uitstekende afrigters en het groot steun in die gemeenskap. Die klub wil voorts ook fokus op die ontwikkeling van rugby in Bongolethu en in die oorwegend wit gebiede in die dorp.
Skole kan Baartman by 073 411 7112 kontak. (Deur Liesel le Roux)