DIE Ladismith Polisie spog van Woensdag 26 Februarie met ’n nuwe bevelvoerder.
Lt kol Pauline Kriel het 31 jaar diens en was werksaam by die Worcester-kluster voordat sy Ladismith toe verplaas is. “Ek is opgewonde om deel te wees van Ladismith en hoop om die stasie na hoër hoogtes te neem,” het sy gesê.
Sy is tydens ’n polisiebosberaad op Ladismith deur gen maj Oswald Reddy, die Eden-kluster se bevelvoerder, verwelkom. Tien maande se misdaadsyfers is tydens die beraad ontleed en idees is uitgeruil om beter resultate te verseker.
“Die gees onder die lede is positief en almal is daartoe verbind om ’n veilige omgewing vir Ladismith se inwoners te skep,” sê sy.
Sy nooi die gemeenskap om haar kantoor te besoek of om haar te kontak by 082 778 6683. (Deur Angelique Erasmus)