Winkel-inbraak het hele dorp op hol

’N INBRAAK vroeg verlede Vrydag by ’n kettingwinkel op Oudtshoorn is ’n sprekende voorbeeld van ’n storie wat soveel stertjies gekry het dat almal later op hol was. Daar is selfs op sosiale media en later op straat bespiegel dat iemand in Pep Stores op die hoek van Hoog- en St Johnstraat doodgesteek of vermoor is.

Die feite is egter minder sensasioneel. Volgens die plaaslike polisie was dit slegs ’n inbraak oornag waartydens sowat R20 000 kontant en selfone uit die kluis gesteel is. Niemand is in die voorval beseer nie.

Die klaer het aan die polisie gesê dat hy die winkel Donderdagmiddag (27 Februarie 2020) gesluit het en met die oopsluit Vrydagoggend besef het dat die winkelalarm nie geaktiveer was nie. Hy het dadelik onraad vermoed.

Die diefwering aan die agterkant van die winkel en drie slotte was oopgebreek.

“Daar is ook tussen die kleedkamer en kantoor deurgebreek,” sê sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie gesê.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek. (Deur Angelique Erasmus)