Oakdale se krieket reeds goed op dreef

Oakdale se o.19 A-span, met twee uitblinkers van Oudtshoorn, is agter van links Pine Marais (afrigter), Marco Steyn, Pieter Marais, Terblanche du Plessis (Oudtshoorn), Gerhard Ehlert, Zandré Conradie, Duan Roberts, Corné Kennedy (Oudtshoorn) en Gerhard Holtzhausen (afrigter). Voor van links is Arend Blom, Pienie Pienaar, Francois Labuschagne, Tian Ferreira en Erick Steyn. (Foto verskaf)

DIE nuwe krieketseisoen is in volle gang.

Die Hoër Landbouskool Oakdale se o.19A-, o.19B-, o.15A- en o.15C-spanne het Saterdag 30 Oktober behoorlik hul stem dik gemaak teen die spanne van onderskeidlik Glenwood House, D’Almeida, Langenhoven Gimnasium en Rosemoor Hub.
Die o.19A-span – met twee Oudtshoorniete, Terblanche du Plessis en Corné Kennedy – klop Glenwood House met 215 lopies behaal, vir die verlies van agt paaltjies in die toegelate 50 boulbeurte.

Die beste kolwers van die dag was Zandré Conradie met 54 lopies nie uit nie, en Pieter Marais met 34 lopies.
Uitstekende boulwerk deur Pieter Marais (vier paaltjies vir vier lopies in 4,5 boulbeurte) en Erick Steyn (vier paaltjies vir agt lopies in 5 beurte) verseker ’n wen met 193 lopies.

In hul wedstryd teen D’Almeida moes die o.19B-span die knie buig en verloor met twee paaltjies.
Die o.15A-span het in die seniors se voetspore gevolg deur Langenhoven Gimnasium van Oudtshoorn met sewe paaltjies te troef.

Oakdale teken die wenlopies aan in die 14de beurt vir die verlies van drie paaltjies.

Die beste kolwers in hierdie wedstryd was Jandrian Goosen (20), Jannes Snyman (13) en Jean Joubert (12).
Die o.15C-span, oftewel die “Skaapstekers”, het in hul wedstryd teen Rosemoor Hub se o.15A-span ’n sege behaal met agt paaltjies.