Calitzdorpmatrieks kry nuwe spogbaadjies

Die Hoërskool Calitzdorp het ’n groot fondsinsamelingspoging ge-loods om hierdie pragtige “matriekbaadjies” vir vanjaar se matrieks te koop. Andrew Davids, hoof van die skool, het gesê die netjiese baadjies skep ’n gevoel van eenheid en trots onder die matrieks. Hy het al die donateurs en ander rolspelers uit die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning. “Die matrieks onder leiding van Herchelle Pretorius, voorsitter van die VRL (verteenwoordigende raad van leerders), en Jenovin Fortuin en Chessnay Jones, hoofseun en hoofmeisie, het goeie inisiatief aan die dag gelê met die insameling. Ons strewe vir vandeesmaand is vernuwing. Ons wil met hierdie inisiatief wys hoe baie potensiaal in ons skool opgesluit lê en vir ons leerders hoop gee.” Davids het voorts gesê dit is hul strewe om die skool ’n skool van keuse te maak. “Ons ervaar tans ’n ongelooflike positiewe gees by die skool nadat ons verlede Donderdag (11 Julie) ’n suksesvolle matriekafskeid gehad het. Voorts is ons mikpunt om vanjaar ’n matriekslaagsyfer van meer as 80% te hê,” het Davids gesê. Links is hoe die matriekbaadjie van die agterkant lyk. Foto’s: Schalk le Roux