Vandaliste het groot skade aangerig by die Kango Vliegklub se aanloopbaan. By die vibecrete-muur wat beskadig is, is van links Johan le Roux, komiteelid van die vliegklub, André le Roux, lid van die klub, Fanie Fourie, voorsitter van die klub, en Lionel Botes wat help met instandhoudingswerk by die klub. Links op die voorgrond is ’n stukkie boomstam wat oorgebly het nadat die kwaaddoeners dit verwoes het. Foto: Schalk le Roux
Deur Schalk le Roux
DIE Kango Vliegklub bied ’n beloning van R5 000 aan vir enigeen wat inligting kan verskaf wat lei tot die suksesvolle vervolging van die vandale wat tussen Sondag 14 Julie 2019 en Woensdag 17 Julie 2019 groot skade by die vliegklub se baan aangerig het.
Die Kango Vliegklub se perseel met aanloopbaan is op die oop stuk veld wes van Jan van Riebeeckweg tussen die Polisie se honde-eenheid en die Bergsigwoongebied.
Die vandale het stukke van ’n vibecrete-muur langs die braaivleisplek van die klub afgebreek, twee bome verwoes, takke van ses bome afgebreek, ’n plank van die paviljoen langs die aanloopbaan deels afgebreek en die dak van een van die afdakkies langs die aanloopbaan ingeduik deur vermoedelik daarop te spring.
Daar is ook bottels stukkend gegooi naby die ingang tot die omheinde perseel.
Die hout is klaarblyklik gebruik om vuur te maak, want daar was as in die braaiplek.
Volgens Fanie Fourie, voorsitter van die Kango Vliegklub, was daar Sondag laas lede van die klub by die vliegklub se perseel en was die skade toe nog nie aangerig nie.
Die vandale moes dus tussen toe en gisteroggend, toe Johan le Roux, ’n komiteelid, die skade ontdek het.
Die skade is ná Sondagmiddag aangerig aangesien daar Sondag lede by die klub was en was en die vandalisme toe nog nie gepleeg is nie.
’n Omgekrapte Fourie het gister gesê daar was al verskeie kere in die verlede vandalisme by die vliegklub en wil hê dit moet nou ’n einde kry.
Hy het namens die Kango Vliegklub ’n beloning van R5000 uitgereik vir inligting wat lei tot die suksesvolle vervolging van die skuldiges.
Inligting kan per e-pos gestuur word na info@cangoflyingclub.co.za of Fourie kan gekontak word by sel 082 897 8251.
Volgens Fourie het hy ’n klag van opsetlike saakbeskadiging by die Polisie ingedien.